[FOTO’s] Warm kos en ‘n warm lyf dié winter
Die Honeyfield Charity Foundation probeer om elke Sondag vir die haweloses iets warm te ete en 'n warm glimlag te gee.
Niks maak ‘n koue lyf so vinnig warm soos ‘n lekker koppie sop nie. As dit boonop ‘n honger, koue lyf is, hoe nodig is so ‘n koppie sop dan nie.
Die Honeyfield Charity Foundation probeer om elke Sondag iets warm te ete aan behoeftiges uit te deel.

Wanneer hulle hul tafel op die hoek van Kobie Krige- en Joubertstraat opslaan, is dit nie lank voor ‘n ry mense vorm nie. Die glimlagte op die gesigte in die ry wys sommer hul dankbaarheid.
Dié organisasie het onlangs vir die behoeftiges sop en die week daarna lekker warm pasta gaan uitdeel. Soos baie ander organisasies, kry die Honeyfield Charity Foundation nie befondsing nie en maak hoofsaaklik staat op skenkings.
“Haai weet jy, ons kort borge – of dit nou vir macaroni, maalvleis, uie, tamaties en veral bakkies is, want polistireenbakkies is ongelooflik duur,” het Ann verduidelik.
Sy het gesê dit hoef nie polisitireenbakkies te wees nie want enige donasie sal help.
Ann se organisasie deel nie net kos uit nie, maar help ook met klere, komberse en ander benodigdhede waar hulle ook al kan.
“Hierdie mensies het dit regtig nodig,” het sy verduidelik terwyl sy die laaste bakkie uitgedeel het.

