Nie goddeloos nie maar net moedeloos
Heidi Venter is 'n bekende in Krugersdorp al vir baie jare en wil graag haar hartseer verhaal van armoede en oorlewing met die gemeenskap deel.
Heidi Venter is al vir baie jare ‘n bekende gesig in Krugersdorp en as jy al vir Heidi ontmoet het sal jy weet dat sy soms ‘n veeleisende mens kan wees. Maar, het jy al ooit gesit en wonder wie die mens agter die vuil hare en stukkende klere is?
Heidi het vir die News-joernalis, Natasha Pretorius, genader om haar storie van hartseer en moedeloosheid te vertel.
• Lees ook: Haweloos in Krugersdorp – hoe het hulle tot hier gekom?
Heidi, wie naby aan haar 50’s is, sê dat sy in Krugersdorp gebore is en by Hoërskool Monument skool gegaan het. Sy is toe na skool getroud.
Ek het nogal bietjie brains maar ek gebruik dit nie meer deesdae nie. Ek het selfs my eie besigheid gehad.”
Op 28 het haar man haar gelos vir ‘n ander vrou en beland toe op straat. Dit was 19 jaar terug. Van daar af is elke dag van haar lewe ‘n geveg om te oorleef. Heidi sê sy is moeg en nie meer gemaak vir die strate nie.
“Ek het my lewe weggegooi toe my eksman my weggooi. Ek het opgehou lewe. Hy het my hart gebreek.”
Na jare op straat hoor Heidi dat haar ma oorlede is en dit breek haar dat sy nie daar was nie.
• Also read: Task team created to deal with homelessness and substance abuse
Sy was op ‘n stadium betrokke by mense wat diefstal gepleeg het en erken sy was self ook betrokke by inbrake. ‘n Vriendin het haar toe aan dwelms voorgestel en soms gebruik sy steeds Crystal Meth.
Deesdae steel sy glo nie meer nie en sê, “My ma het nie kriminele grootgemaak nie. Ek het dit gelos.”
Heidi slaap nie in die aande op dieselfde plek nie en het vertel dat sy rondbeweeg om vir haar ‘n veilige hawe vir die aand te soek. Soms loop sy van Krugersdorp na die News se kantore in Witpoortjie om op die stoep te slaap. Tog sê sy dat sy nie kan slaap nie omdat sy al so baie aangerand en beroof is.
Volgens haar is sy ook al meer as 30 keer verkrag.
Sy beweer dat sy al ‘verkoop’ is en dat mense bose magte gebruik om van haar ontslae te raak. Vir die afgelope twee jaar beweeg sy rond in ‘n rolstoel en al kan sy loop, het sy verduidelik dat sy vreeslik baie pyn het maar nie by die hospitaal kan uitkom nie.
Ek verloor elke dag alles,” het sy verduidelik oor die klein sakkie besittings wat sy saam met haar dra.
Elke dag probeer sy geld bymekaar maak, ten minste R300, sodat sy vir haar doeke kan koop vir die aand en pynpille. Toe Pretorius Heidi ontmoet het was dit glo die eerste keer wat sy in vyf dae geëet het.
Om geld te maak verkoop sy soms klere of doen naels, hare of pruike vir mense. Maar deesdae wil mense haar nie meer help nie. Sy moet maar loop en vra.
“My tyd op straat is op. Ek wil gaan waar ek veilig is,” het sy vertel en bygevoeg dat sy op die tennisbane in Krugersdorp-Wes gaan bly maar sy kort ‘n tent.
Jare terug wou iemand haar glo slaan en is sy gered deur ‘n Nigeriese man. Vandag vertel sy dat sy hom baie lief het en dat dit haar keuse is wie sy mag lief hê.
“Ek verkoop nie my liggaam nie. Verbeel jou om saam met 20 mans te slaap op een dag, daar is geen manier nie! Dit is soveel werk en ek het nie so baie seep nie. Dit is aantrek, uittrek en bad. Ek het nie water nie en ek gaan ook nie in die sloot kan kom nie.”
Heidi wil hê dat mense moet verstaan almal verdien ‘n tweede kans en dat mens nie sommer net moet oordeel nie.
Ek is nie goddeloos nie, ek is net moedeloos.”
Heidi se dogters het intussen met die News kontak gemaak en gesê dat hulle al talle kere hul ma probeer help het, maar dat sy kies om op straat te bly. Hulle het ook menige pogings aangewend het om haar te laat rehabiliteer.
Die dogters noem dat hulle gereeld aan haar kos en klere verskaf wanneer sy met hulle kontak maak.
Volgens een van haar dogters het Heidi nooit haar skoolloopbaan voltooi nie en is sy ook nie deur haar man ‘weggegooi’ nie. Sy het vertel dat haar pa goed vir haar ma gesorg het nadat hulle geskei is, maar dat Heidi se verslawing baie probleme vir die familie veroorsaak het, dus het die welsyn hulle van haar af weggeneem en in die sorg van hul pa geplaas wie hul grootgemaak het.
Hulle wil graag hê dat die gemeenskap moet weet dat hulle nie hul ma weggegooi het nie, maar dat dit haar eie keuse is om op straat te bly.
*Artikel aangevul — Red.
