Local news

Gemeenskap vier kultuurerfenis by Paardekraal Monument

Die Krugersdorp-gemeenskap het onlangs by die Paardekraal Monument saamgekom om Paul Kruger se 200ste verjaarsdag te vier met skriflesing, ’n vlagparade, ’n perde-toneel en die afvuur van ’n kanon.

Die Krugersdorp-gemeenskap het op 11 Oktober by Paul Kruger se standbeeld bymekaargekom om sy 200ste verjaarsdag te vier met die sny van ’n koek, die uitblaas van kerse en ’n spoggeleentheid by die Paardekraal Monument.

Volgens Freddie Hardman, voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) Krugersdorp Kultuurnetwerk en die Paardekraal Feeskommissie, word soortgelyke vieringe jaarliks by Paul Kruger se standbeeld gehou, waar ’n kraanslegging en serpseremonie plaasvind. Ná die verrigtinge het die gemeenskap die program by die monument bygewoon.

Die dag geopen met skriflesing en gebed, wat deur Alwyn de Klerk, ondervoorsitter van die Paardekraal Feeskommissie, gelei is. Daar was ’n vlagparade, ’n toneel waarin perde betrokke was, en laastens die afvuur van die kanon.

• Lees ook: Krugersdorp vier Paul Kruger se nalatenskap

Freddie vertel die toneel en die kanonafvuur was van die dag se hoogtepunte.

“Dit was ’n eerste vir Paardekraal en ongelooflik om te beleef,” het hy bygevoeg.

Letitia van Tonder en Adina Loubser by die monument.

Alwyn het verduidelik waarom dit belangrik is om erfenis te bewaar. Hy meen Krugersdorp is een van die dorpe met die rykste kulturele geskiedenis op die Wes-Rand.

“Nog voordat Randfontein en Roodepoort ontstaan het, was Krugersdorp al daar. Hierdie twee dorpe het oorspronklik onder die distrik Krugersdorp geval en is eers later tot volwaardige dorpe verklaar,” sê hy.

Die dorp het sy naam gekry toe MW Pretorius die grond vir die dorp geskenk het, op voorwaarde dat dit die naam van die destydse president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), Paul Kruger, moes dra.

“Verskeie geboue in die dorp, waaronder die Klipkerk, is deur president Kruger ingewy,” sê Alwyn.

Hy het bygevoeg dat Kruger nie die enigste figuur is wat ’n blywende merk op die dorp gelaat het nie.

“Danie Theron, wat tydens die Anglo-Boereoorlog as bo-baasverkenner die Verkennerskorps en die Wielrijderskorps gestig het, het voor die oorlog ’n prokureurspraktyk in die dorp bedryf. Maar die geskiedenis van Krugersdorp strek selfs verder terug – voor die eerste Anglo-Boereoorlog het die manne van die ZAR bymekaargekom waar die monument vandag staan om oor die pad vorentoe te beraadslaag,” het hy vertel.

Die kanon is afgevuur.

Volgens Alwyn is Krugersdorp ryk aan kultuurskatte.

“Daar rus ’n plig op ons as Krugersdorpers om hand aan die ploeg te slaan om ons dorp se skatte te bewaar. Ons moet ons kinders leer om trots te wees op die erfenis wat hulle voorgeslagte vir hulle nagelaat het. Dit is ’n leuen dat ons slegs op erfenis mag trots wees wat deur almal gedeel word. God het volke en nasies geskape, en aan elkeen ’n unieke erfenis gegee,” sê hy.

Inwoner Letitia van Tonder sê sy het die dag bygewoon omdat haar kultuur en die geskiedenis wat daarmee saamgaan vir haar belangrik is.

“Ons woon die dag by om te onthou wie ons is en waar ons vandaan kom, en om ons kinders te leer. Dit is een van die min dae uit ons geskiedenis wat nog gevier word. Ons vier nie die dag om ’n beeld te verafgod nie, maar as herinnering aan waar ons vandaan kom en hoe ver ons as kultuur gevorder het.”

Letitia het tradisionele boerevroudrag gedra, soortgelyk aan dié van haar voorouers. Sy sê dit dra by tot die gees en atmosfeer van die fees en dien as herinnering én opvoeding vir die jonger geslag.

Peter Clark sê dit was vir hom lekker om tussen mense te wees wat sy waardes deel. Elke keer as hy die dag bywoon, leer hy iets nuuts wat hy nie op skool gehoor het nie.

Alwyn de Klerk lewer ‘n toespraak.

“Op skool het hulle altyd gemaak asof hierdie gebeure êrens ver weg plaasgevind het, maar dit het reg op ons voorstoep gebeur – soms selfs op plekke waar ons elke dag beweeg,” sê hy.

Freddie meen dit is belangrik dat die gemeenskap bewusmaking skep.

“Ons moet eienaarskap neem om ons dorp se Afrikaanse taal, Afrikanergeskiedenis en -kultuur te beskerm, te bevorder en te behou. Ons het werklik ’n ryk geskiedenis in hierdie dorp,” het hy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button