
Bykans alle verkeersligte in Krugersdorp het ‘n bedelaar. Wit plakkers (Afrikaners) is die hoofnuus van hierdie week se uitgawe van die news. Dit gaan sleg met die Boerevolk, en nogtans is daar maar min wat bereid is om kop op te tel uit die stof en te sê ons was eens op ‘n tyd die leiers van hierdie land, met hoë morele waardes, sterk Christelike beginsels en kinders wat hul plek geken het – ons wil weer!
Ek is ‘n voorstaander van kinder- en leierskapontwikkeling en as Afrikaans-sprekende (wit/ boer) Suid-Afrikaner het ek ‘n sagte plekkie vir Afrikaans, braaivleis, rugby en plaaslewe. My kinders ken van oom en tannie sê en weet asseblief kom voor dankie. Hulle kan soms hul sterte in ‘n krul trek maar het altyd ontsag vir pa, ma, meneer, juffrou en ooms en tannies.
Vandag ry ek van Krugersdorp-Wes af na Key West net om by die drierigting-stopstraat by die hoërskool tot my afgryse te sien hoe ‘n jong seun in sy skooldrag van daardie skool, ‘n bejaarde omie met die vuiste takel. Ek was geskok.
Ek het my motor omgeswaai en agter die omie se voertuig gestop terwyl jong meisies die seuntjie keer om nie verder aan die oom te slaan nie. Ek het die oom aangeraai om in sy motor te klim en te ry. Ek moes hom dalk eerder aangeraai het om ‘n saak van aanranding te gaan maak .
My eie ouers is byna twee jaar gelede in hul eie huis deur rowers oorrompel en sleg aangerand. My hart pyn nou nog wanneer ek dink aan die bebloede huis en my pa vol bloed en swelling in die hospitaal (‘n man van 70 jaar).
Ek het nooit gedink ek sal die dag beleef dat ek sal moet skerm vir ‘n omie ver oor die 60 en dit nogal teen ‘n Afrikaner-seun nie – sies!
