Hengelspan oortref hul eie verwagtinge
Die kompetisie was straf en die seuns het daarin geslaag om 'n welverdiende sesde plek te behaal.
Sewe seuns van Krugersdorp het hulle goed van hul taak gekwyt toe hulle onlangs aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Varswater Oewerhengel Kampioenskappe by die Bloemhofdam in Verlatenskraal deelgeneem het.

Varswater-oewerhengel is ‘n uiters gewilde sport in Suid-Afrika en die seuns was bevoorreg om gekies te word vir die Sentraal-Gauteng Varswater Oewerhengelspan.
“Om te hengel is 90 persent tegniek, vyf persent oefening en vyf persent geluk, en as die tegniek deur oefening vir hulle geleer word, is hulle al 90 persent op die regte pad,” het Sentraal-Gauteng se tesourier, Gloria Kockott gesê.
Die kompetisie was straf en die seuns het daarin geslaag om ‘n welverdiende sesde plek te behaal. Die groep het oor drie dae 377 visse gevang wat altesaam 495 kilogram geweeg het. Hul afrigter is baie trots op hulle. Sy voel dat hulle baie in ‘n baie kort tydjie vermag het.
“Daar is spanne wat reeds drie jaar lank oefen vir die geleentheid,” het Gloria vertel.

Volgens haar is vier van die hengelaars na die Mini Proewe genooi waartydens leerders gekies kan word vir die span van die Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengelfederasie (Savof).
Drie van hulle, Mickayla Kaiser, Darren Hendricks en Marko Havenga is leerders van HTS Nic Diederichs en die ander een, Bradley van Vuuren is van Hoërskool Florida.
Lees ook
Hengel is vir die seuns tweede natuur
