Mullies atlete hou skool se naam tops
Laerskool Muldersdrif se atlete het beslis hul skool naam hoog gehou by die onlangse D2 atletiekkampioenskappe.
Vyftien atlete van Laerskool Muldersdrif het onlangs aan die D2-atletiekbyeenkoms deelgeneem.
Die byeenkoms het by Hoërskool Noordheuwel plaasgevind en die atlete wat die eerste en tweede plekke in elke item behaal het, het gekwalifiseer om aan die Gauteng-kampioenskappe deel te neem wat in Germiston aangebied word.

Ivan Oosthuizen het die eerste plek in die 70m-hekkies vir o.10-seuns verower en ‘n derde plek in hoogspring behaal.
Nicke Grobelaar het die tweede plek behaal in die verspring vir o.10-dogters en Zeevah Pocock het die tweede plek verower in die hoogspring vir o.10-dogters.
Die blitsvinnige Mieke van der Merwe het eerste in die 60m-naelloop vir o.8-dogters behaal en Diani Nel het ‘n derde plek in dieselfde item losgehardloop.

Marno Bouwer het die 1 200m vir o.11-seuns gewen.
Die derde plek in o.12-seuns hoogspring het gegaan aan Jan-Hendrik Heymans, en Mene de Freitas het dieselfde plek behaal in die hoogspring vir o.12-dogters.
Marco Barnard het ‘n tweede plek behaal in die 75m-hekkies vir o.12-seuns en Ruan Hart het derde geëindig in die diskus vir o.13-seuns.

Mia Roets het skoonskip gemaak en eerste plekke behaal in die 200m-naelloop, die 200m- en die 75m-hekkies vir die o.13-dogters.
Cine Fraser het vierde geëindig in die 1 500m-wedloop vir o.13-dogters.

