Monnas-hokkie wys hoekom hul skoolkleur goud is
Monnas-hokkiespelers het gedurende die skoolvakansie hul waarde gewys teen ses ander skole, en het weggestap met meer as net 'n paar oorwinnings.
Hoërskool Monument het gedurende die laaste week van die skoolvakansie ‘n vierdag-hokkiefees aangebied en met ses ander skole meegeding om die topposisie.
‘n Handvol uitblinkerhokkieskole, naamlik Hoërskool Pietersburg, Kroonstad, Nelspruit, Sentraal, Zeerust en Maragon Ruimsig het die ervare Monumentare op hul tone gehou tydens die sowat 15 wedstryde waarby Monnas betrokke was.

Monnas het weereens alles ingesit en gewys hoekom hulle bekendstaan as dié sportskool aan die Wes-Rand. Die dogterseerstespan was grootliks onoorwonne.
Monnas het in die vier dae geen wedstryd teen enige van die skole verloor nie.

In die eindstryd teen Pietersburg was die eindtelling gelykop 1–1. Die wedstryd is toe in ekstra tyd met strafdoele beslis en Monnas het met 3–2 uiteindelik koning gekraai.








