Bastion se buffels beïndruk op krieketveld
Hoërskool Bastion se eerste krieketspan het 'n goeie jaar beleef vanjaar.
Vir Hoërskool Bastion se eerste krieketspan het die jaar dalk ‘n moeilike begin gehad maar die seuns het opgestaan, hulself afgestof en die seisoen op ‘n hoë noot afgesluit.
Só het die nuwe skoolhoof, Ju-han Swart, die senior krieketspan se seisoen in ‘n neutedop opgesom. Hy het bygevoeg dat die eerste krieketspan vanjaar 26 wedstryde gespeel en 17 gewen het.
“Ons wil in 2025 verbeter,” het Ju-han gesê.
Oor die seisoen in die algemeen het Ju-han verduidelik dat hulle in Januarie aan die Finsbury Superliga deelgeneem het. Daar het hulle teen skole so ver as Secunda meegeding en tweede in hul afdeling geëindig.
“Ons kon ongelukkig nie uitspeel vir die promosie-wedstryd nie, maar ons is trots op hulle,” het Ju-han gesê.

Hy het verder gesê dat die span toe vir die eerste keer in jare Limpopo besoek het en die gasheerskool Hoërskool Ben Vorster, Hoërskool Oos-Moot en Hoërskool Potchefstroom in die gesig gestaar het, wat hulself voorberei het op wat voorlê.
Die span het toe later aanbeweeg en die Wes-Rand Liga gewen.
Volgens die krieketdirekteur en afrigter, Wynand Pretorius, kan hierdie eerste krieketspan nooit afgeskryf word nie.
“Die span het ongelooflike veggees en groei van krag tot krag. Ons sien uit na ‘n belowende 2025 waar Bastion beslis ‘n span sal wees om mee rekening te hou,” het afrigter Anthony Crocker bygevoeg.
“Die kaptein, Ethan Reineke, het van voor met die kolf gelei en 561 lopies gemoker met ‘n kolfgemiddelde van 46.8. Rudie Harmse en Jahnco Bekker was albei dorings in die vlees vir baie spanne se kolwers en het saam 64 paaltjies geneem die afgelope seisoen,” het Ju-han afgesluit.
