Nories se para-atleet op pad na Dubai
Nories se spoggerige para-atleet Arno Graaf is oppad Dubai toe om sy land te verteenwoordig.
Arno Graaf, ‘n Hoërskool Noordheuwel-leerder, para-atleet en lid van die IsAbility Sportklub sal volgende week Suid-Afrika tydens die 16de Fazza Athletics Grand Prix in Dubai verteenwoordig.
Hy sal spesifiek aan die spiesgooi- en gewigstoot-items deelneem.
Arno se ma, Esme Graaf, het vertel die byeenkoms begin op 6 Februarie. Sy sê Arno beoog om internasionaal geklassifiseer te word wat hom sal toelaat om op die World Para Athletics (WPA)-ranglys te verskyn. Dit sal dus vir hom deure oopmaak om internasionaal mee te ding indien die geleentheid opduik.
“Hierdie is ook fantastiese voorbereiding vir die South African Sports Association for Physically Disabled se nasionale kampioenskappe in Gqeberha einde Maart vanjaar,” het sy bygevoeg.
Afrigter Eben Vermaas het ook vertel Arno is tans besig om nuwe hoogtepunte te bereik in sy atletiekloopbaan. Hy het juis onlangs die F46 (nie-amptelike o20 diskus-record) verpletter met ‘n massiewe 35.44m by Hoërskool Noordheuwel.
Esme het afgesluit dat Arno uitsien na ‘n inspirerende en suksesvolle 2025 wat sy atletiek en matriekjaar inhou.
