Krugersdorp-duo haal Hyrox-podium in Kaapstad
Twee plaaslike vroue wys wat spanwerk en uithouvermoë beteken ná indrukwekkende tweede plek in hul eerste Hyrox dubbels-kompetisie.
Juan-Marié Herbst (32) en Shani de Witt (35) het gewys dat hulle nie terugstaan vir ’n uitdaging nie, nadat hulle ’n indrukwekkende tweede plek behaal het tydens die Hyrox Doubles Pro-kompetisie in Kaapstad.
Die Kaapstad-byeenkoms vorm deel van die internasionale Hyrox-reeks – ’n wêreldwye fiksheidskompetisie wat professionele en amateuratlete saambind in ’n gestandaardiseerde formaat van funksionele oefeninge en hardloop.
Shani vertel dit was vir hulle albei die eerste keer dat hulle aan ’n dubbelskompetisie deelgeneem het.
“Hyrox is ’n intense fiksheidskompetisie wat bestaan uit agt 1km-hardlope, afgewissel met agt verskillende funksionele oefeninge, insluitend sled pushes, rowing, wall balls en lunges. In die Doubles Pro-formaat deel jy en jou maat die werk by elke stasie, maar albei moet steeds elke kilometer hardloop. Dit toets jou uithouvermoë én spanwerk,” verduidelik sy.
Sy sê dit was vir haar ’n voorreg om aan die spanformaat deel te neem, aangesien dit ’n ander dinamiek bring.
“Om iemand langs jou te hê wat jou motiveer en saam met jou deurdruk, maak ’n groot verskil. Dit bou ’n ongelooflike band.”
Haar hoogtepunt was toe hulle die laaste oefening voltooi en saam oor die eindstreep gehardloop het.
“Die gevoel van prestasie is onbeskryflik,” sê sy.
Juan-Marié sê hulle het nou hul visier op die Pro Doubles Women World Championships in 2026.
“Dit was ’n voorreg om saam met Shani deel te neem. Alleen is rof, maar mens maak ’n fout om te dink dubbels is makliker omdat jy die werk deel. Dit beteken net jy moet vinniger hardloop – en dit was regtig rof!”
Vir haar was die hoogtepunt om ’n podiumplek te behaal.
“Ons het vir die eerste keer saam deelgeneem. Nou weet ons wat om te verwag, wat ons swakpunte is, en waaraan ons moet werk.”
Hulle beplan om weer aan dubbels deel te neem. Volgens Shani bring die span-aspek soveel energie en motivering, en Juan-Marié het reeds ’n plan van aksie.
“Krugersdorp het ’n klomp fikse en sterk vrouens. Ons sal dit geniet om ons plaaslike naam hoog te hou oorsee,” sê sy.
Shani beveel die ervaring aan vir enige iemand wat hou van ’n uitdaging en goeie gees.
“Ons volgende uitdaging is die Deadly Dozen by UJ in Oktober, en daarna mik ons vir die wêreldkampioenskappe in Swede volgende jaar,” sluit sy af.
