Deadly Dozen sukses vir Juan-Marié
Noordheuwel se kragatleet Juan-Marié Herbst het ’n indrukwekkende tweede plek in die uitdagende Deadly Dozen-hybridkompetisie behaal terwyl sy voorberei vir internasionale deelname.
Met nóg ’n podiumplek agter haar naam mik Juan-Marié Herbst nou om internasionaal aan die Deadly Dozen deel te neem.
Sy het op 27 September by Potchefstroom se McArthur-atletiekstadion aan die Deadly Dozen-hybridkompetisie deelgeneem – ’n kombinasie van hardloop en kragoefeninge – om haar spoed en uithouvermoë te verbeter.
“Hybrid is die nuutste mode op die stadium, so ons het ook op dié trein gespring. Dit is lekker en uitdagend. Dis die perfekte kombinasie om fiksheid en krag te toets,” het sy vertel.
• Lees ook: Krugersdorp-duo haal Hyrox-podium in Kaapstad
Die kompetisie het uit 12 stasies bestaan, insluitend hardloop, lunges en deadlifts. Juan-Marié het as tweede vrou geëindig met ’n tyd van 48:29.
Volgende op haar kalender is die Deadly Dozen by die Universiteit van Johannesburg op 25 Oktober, waarvoor sy en haar Hyrox-maat, Shani se Witt, voorberei. Hulle beoog ook om in Januarie aan die Deadly Dozen African Championships deel te neem – ’n byeenkoms wat hulle kan kwalifiseer vir die Wêreldkampioenskappe.
• Lees ook: Meet the 10th fittest woman in Africa
Sy berei voor deur elke oggend CrossFit te doen om krag en vaardigheid te bou, en probeer minstens drie keer per week hardloop.
“Daar is twee belangrike elemente met hardloop, waarvan een tempo is, en die ander afstand. Enige iets meer as dit is ’n absolute bonus. Die werk word ingesit, en hopelik kom daar resultate,” het sy afgesluit.
