Spanwerk lei tot goud: Shani en Melissa nou Hyrox-sensasies
Met ’n uitstaande vertoning en goeie spanwerk behaal Shani de Witt en Melissa Clarke goud tydens die Hyrox Women’s Pro Doubles-kompetisie.
Hyrox-atlete Shani de Witt en Melissa Clarke het op 29 November aan die Hyrox Women’s Pro Doubles-kompetisie by die Nasrec-sentrum deelgeneem en ’n eerste plek in hul afdeling behaal.
Die duo se eindtyd was 1 uur en 12 minute, met ’n uitstaande vertoning oor al agt stasies. Shani verduidelik dat die hardloopgedeelte uit onderskeidelik 1km-lopies tussen die afdelings bestaan het, wat in totaal 8km beloop het.
“Die hoogtepunt vir my was om saam met my spanmaat en kollega, Melissa, met soveel vasberadenheid te presteer – en om die energie van die skare en mededingers te beleef. Om oor die wenstreep te hardloop en te besef ons het gewen, was ongelooflik spesiaal,” het Shani vertel.
• Lees ook: Krugersdorp-duo haal Hyrox-podium in Kaapstad
Na afloop van die kompetisie het hulle ook vir die wêreldkampioenskappe, wat volgende jaar plaasvind, gekwalifiseer. Om te kwalifiseer moes hulle nie net eerste in die Pro-afdeling eindig nie, maar ook ’n top posisie op die wêreldranglys verseker. Shani het bygevoeg dat slegs die wenners van elke afdeling uitgesonder word vir die wêreldkampioenskappe.

Die wêreldkampioenskappe vind in Junie volgende jaar in Stockholm, Swede plaas.
“Ek voel ongelooflik bevoorreg om my land te kan verteenwoordig. Gesondheid en fisieke vermoë is iets wat ek nooit as vanselfsprekend beskou nie, en ek is dankbaar vir elke geleentheid om harder, sterker en beter te word. Hierdie oorwinning is vir elke persoon wat saam met my op hierdie avontuur is,” het Shani afgesluit.
