Derby vir die geskiedenisboeke: Witbulle seëvier in 112-puntekragmeting teen Blues
Die Witbulle het die Nories se Blues in ’n skouspelagtige Noordvaal-halfeindstryd geklop om hul plek in die finaal te bespreek.
Monnas-ondersteuners is in die sewende hemel nadat hul eerste rugbyspan, die Witbulle, Noordheuwel se Blues met 60–52 geklop het in een van die aanskoulikste wedstryde nog tussen die twee trotse Krugersdorp-derbyskole.
Die Blues en Witbulle het gister, 18 Augustus, kragte gemeet in die halfeindstryd van die Noordvaal Beker, waar die Witbulle met agt punte geseëvier het.

Die Krugersdorp News het die wedstryd bygewoon, waar die spelers goeie kompetisie gelewer het. Die Witbulle het in die eerste helfte ’n belowende begin gehad en teen rustyd met 29–24 voorgeloop. Drieë was volop, duikslae kliphard en die gees onder die ondersteuners iets om te beleef.

• Lees ook: Krugersdorp-derby: Alles op die spel vir Witbulle en Blues
In ’n wedstryd vol punte kan albei spanne trots wees op hul goeie aanvalsspel.

Sonder twyfel was die wedstryd een vir die geskiedenisboeke, weens die hoë eindtelling.
Vir die Blues is dit vir nou verby, maar daar is steeds baie om te vier. Vir Monnas is dit ’n tree nader aan Noordvaal Beker-glorie.

Die Noordvaal Beker-finaal vind Saterdag, 22 Augustus op Monnas se gronde plaas, waar die Witbulle teen Hoërskool Waterkloof om die titel gaan meeding.
