Derbydag bring Krugersdorp-gemeenskap saam
Die jaarlikse derby het nie net topklas rugby opgelewer nie, maar ook gewys hoe die twee skole steeds een gemeenskap vorm ondanks hul mededingendheid.
Duisende toeskouers het op 9 Mei in Krugersdorp-Noord byeengekom vir een van die dorp se grootste skole-derbies.
Dit was die jaarlikse wedstryde tussen Hoërskool Monument en Hoërskool Noordheuwel, wat reeds sedert die 1980’s teen mekaar op die rugbyveld meeding.



Die geesdrif was hoog, met leerders, oudleerders en inwoners wat die pawiljoene volgepak het. Ondersteuners van albei skole het geesliedere gesing om te wys watter skool die meeste gees het.
Verskeie rugbywedstryde is gespeel, met die hoogtepunt die eerste span wedstryd waarin Monnas se Wit Bulle met 41–15 gewen het.
LEES OOK: Monnas wen Krugersdorp-derby
Die News het vroeër berig dat Monnas op 4 Mei hul ‘Beste in die Weste’-gesamentlike opening aangekondig het. Beide skoolhoofde, Dawie Kriel en Jan van Staden, het beklemtoon dat die twee skole, ondanks die mededinging, steeds een gemeenskap vorm.


Sport- en atletiekhoof by Monnas, Trompie van der Berg het gesê tussen 10 000 en 14 000 mense was op Monnas se terrein, waar daar ook netbal- en hokkiewedstryde plaasgevind het.
“Al die leerders kom uit dieselfde laerskole, en die dag bring die gemeenskap bymekaar. Ek beskryf ons rugby as tradisioneel,” het hy gesê.



Nories se hoof van sport, W.P. Laidlaw, het die rugby as ‘kliphard’ beskryf en gesê dit wys die beste van albei skole.
“Beide is toonaangewende rugbyskole wat ver in die Noordvaalbeker kan gaan. Ek wil hê Krugersdorp moet ’n krag in skolerugby wees,” het hy gesê.
“Die gemeenskap was ongelooflik, en selfs die Old Boys sien uit na so ’n dag,” het hy gesê.
Die gees het reeds die vorige aand hoog geloop tydens die Old Boys-wedstryd tussen die twee skole op Nories se gronde. Duisende toeskouers het die pawiljoene volgesit terwyl ondersteuners luidkeels vir hul spanne gejuig het.
“Die aand was koud, maar die gees warm!” het die voormalige onderhoofdogter van Noordheuwel, Mathilda Steyn, gesê.
Nories se Old Boys het uiteindelik met 19–17 gewen.
Uitslae vir Vrydag, 8 en Saterdag, 9 Mei:
• Eerste span: Monnas 41–15 Nories
• Tweede span: Nories 15–10 Monnas
• Derde span: Monnas 28–12 Nories
• Vierde span: Monnas 20–12 Nories
• Vyfde span: Monnas 21–12 Nories
• Sesde span: Nories 27–12 Monnas
• o14A: Monnas 17–17 Nories
• o14B: Nories 10–5 Monnas
• o14C: Monnas 57–12 Nories
• o14D: Nories 44–0 Monnas
• o15A: Monnas 22–5 Nories
• o15B: Monnas 24–24 Nories
• o15C: Nories 28–22 Monnas
• o15D: Monnas 12–7 Nories
• o16A: Monnas 38–17 Nories
• o16B: Nories 17–0 Monnas
• o16C: Nories 19–5 Monnas
• o16D: Monnas 33–26 Nories












