School sport

Kennies kroon droomseisoen met Goue Leeus-glorie

Laerskool Kenmare se eerste span en o10A-span is as Goue Leeus-kampioene gekroon, terwyl nog 12 spelers vir provinsiale spanne gekies is.

Dit was ‘n rugbykwartaal om te onthou vir Laerskool Kenmare. Van die jongste spelers tot die eerste span het Kennies met sterk vertonings, twee Goue Leeus-titels en 12 provinsiale keurings beïndruk.

Volgens Peter du Toit, hoof van sport, kultuur en bemarking by die skool, het die spelers deurgaans uitstekende dissipline, deursettingsvermoë en spanwerk getoon.

“Die rugbyseisoen was uiters suksesvol vir Laerskool Kenmare. Al ons spanne het die skool met trots verteenwoordig en deurentyd sterk vertonings gelewer,” het Du Toit gesê.

'n Kruinerspeler word in sy spore gestuit. Foto: Heinrich Greyling

Die eerste span, beter bekend as die Swartmasjien, sowel as die tweede en derde spanne en die o10A- en o10B-spanne het uitstekende uitslae behaal. Veral die derde span en die o10A-span het met oortuigende oorwinnings beïndruk.

• Lees ook: Kennies sluit netbalseisoen met ligatitels en provinsiale eer af

Die o11A- en o11B-spanne het ook rugby van hoë gehalte gespeel, terwyl die o9A- en o9B-spanne waardevolle wedstrydervaring opgedoen en groot geesdrif en vasberadenheid getoon het.

'n Speler van Laerskool Kenmare se o10A-span gee sy alles tydens 'n lynstaan. Foto: Facebook

Een van die hoogtepunte van die seisoen was die Swartmasjien se oorwinning oor Laerskool Randhart in die Goue Leeus-semifinaal.

“Daardie wedstryd was ‘n keerpunt in ons seisoen en het die span se karakter, vasberadenheid en spelpeil beklemtoon,” het Du Toit gesê.

Die seisoen is op ‘n hoogtepunt afgesluit toe die Swartmasjien en die o10A-span as Goue Leeus-kampioene gekroon is. Die o10A-span het Laerskool Fairland met 22–0 verslaan, terwyl die Swartmasjien met 33–16 teen Laerskool Roodekrans geseëvier het.

Die Swartmasjien, nou die Goue Leeus-kampioenspan, vier hul spogoorwinning oor Laerskool Roodekrans in die eindstryd. Foto: Facebook

Die skool spog ook met 12 spelers wat vir onderskeie Goue Leeus-spanne gekies is.

In die o12-groep is Fourie Potgieter, Leeroy Hoffman, Ethyn Meredith, Alexander Grobler, Aiden Bothma, Lian Smith, Joshua Taute en Noah Roux opgeneem.

In die o13-groep is Alexander Ludeke, Wald Roets, Rivan Boshoff en Ulrich Dannhauser vir hul onderskeie spanne gekies.

Pale toe! 'n Kenniespeler mik vir nog punte. Foto: Heinrich Greyling

Du Toit het die afrigters, ouers en ondersteuners vir hul volgehoue ondersteuning bedank.

“Die rol wat ons afrigters, ouers en ondersteuners speel, kan nie oorskat word nie. Hul volgehoue betrokkenheid en ondersteuning vorm ‘n belangrike deel van die sukses van Laerskool Kenmare se rugbyprogram.”

Hoewel die tweede kwartaal verby is, sien Kennies uit na die res van die rugbyjaar en die verdere ontwikkeling van sy spelers, op én van die veld af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button