Skaakgeveg in Krugersdorp: Monnas en Nories dink twee skuiwe vooruit
Hoërskool Monument en Noordheuwel het hul derbygees voortgesit met opwindende skaakwedstryde vol strategie, sportmangees en talent.
Hoërskool Monument en Noordheuwel het gedurende die Krugersdorp-derbyweek nie net op die sportveld kragte gemeet nie, maar ook agter die skaakbord.
Die skole se skaakspanne het op 6 Mei in ’n reeks vriendskaplike wedstryde teen mekaar te staan gekom. Volgens skaakorganiseerder Carina Krogh het die wedstryde sportmangees, respek en talent uitgelig.
Monnas se o17-dogterspan het teen Nories se o17-seunspan gespeel. Krogh het gesê daar was van die eerste tot die laaste handdruk ’n duidelike gevoel van wedersydse respek tussen die spelers – iets wat die ware gees van skaak weerspieël.
LEES OOK: Derbydag bring Krugersdorp-gemeenskap saam

Monnas se o17-seunspan het daarna ’n oorwinning oor Noordheuwel se o19-span behaal.
“Dit was ’n titaniese stryd tussen die spelers, met strategiese denke en intense konsentrasie wat deurentyd sigbaar was. Ons kon met trots sien hoe beide skole hul name hoog gehou het,” het sy gesê.
Sy het ook uitgelig dat een van Monnas se uitblinkers die 14-jarige Tshireletso Kalimashe is, ’n Junior Master wat onlangs ’n derde plek by die Suid-Afrikaanse Skaakkampioenskappe in April behaal het.

“Hoewel skaak dikwels as ’n individuele sport beskou word, het die wedstryde bewys dat spanwerk, ondersteuning en trots in jou skool ook ’n groot rol speel. Skaak vereis dat spelers voortdurend vooruit dink en altyd een skuif voor hul opponent probeer wees – iets wat die sport so uitdagend en opwindend maak.
“Daar is groot hoop dat hierdie vriendskaplike ontmoeting tussen die twee Krugersdorpse skole ’n jaarlikse instelling sal word. Beide skole droom daarvan om later vanjaar Krugersdorp met trots by die D2-liga te verteenwoordig en skaak in die streek na nuwe hoogtes te neem,” het sy afgesluit.
