EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Jannie sing op Merensky

Jannie du Toit, Susan Mouton en Coenraad Rall besoek Hoërskool Merensky op 23 Junie met hulle nuutste verhoogstuk 'Doep is nie dood nie'.

Doep is nie dood nie ‘n eenman-aanbieding met teks- en musiekgrepe oor die lewensbeskouing en werk van Koos du Plessis.

Koos is in Januarie 1984 op jeugdige leeftyd oorlede, maar sy nalatenskap bly ‘n bron van wysheid en onsterflike musiek.

Dertig jaar na sy afsterwe word dit in hierdie verhoogproduksie duidelik hoe lewend en relevant sy siening van die lewe steeds bly, hoe treffend sy liedkuns.

Jannie du Toit, ‘n groot vriend van Du Plessis, sit hiermee sy werk voort om Koos se musiek by ‘n volgende geslag te laat voortleef.

Hy verwesenlik ook ‘n jarelange droom om ‘n “eenmanvertoning” oor Koos se werk aan te bied.

Saam met Lucas Maree het Jannie in 1987 Koos se Gebed laat hoor en hy skryf daarna in oorleg met Koos se gesin ‘n laaste strofe vir Somerkersfees

In Doep is nie dood nie is nie net die liedjies nie, maar ook elke sinsnede wat op die verhoog gesê word Koos se eie.

Aanhalings uit ander liedere, gedigte en selfs ‘n kortverhaal wat Koos self een aand vir Jannie oorvertel het word gebruik.

Deur sy groot verskeidenheid tekste wat mekaar oor-en-weer toelig, kry gehore ‘n dieper insig in Koos se verstommende oeuvre.

Die produksie is ‘n herwaardering van sy werk en stel ook van sy minder bekende materiaal bekend.

“As dit gedaan is en verby, die aarde weer sy erfdeel kry, sal hierdie kluisenaar in my nog iewers in ‘n boekrak bly.”

Só het Koos du Plessis geskryf oor sy eie verganklikheid – oor die hoop om iets blywend te doen, iets na te laat.

Hy is nou, meer as wat hy ooit kon voorsien het, teenwoordig in die Afrikaanse musiekbelewenis.

Sy werk is deur uiteenlopende kunstenaars – van rockers tot popsangers en a capella-kore, troebadoers en instrumentaliste – ontgin.

Hy het nie tot ‘n “boekrak” beperk gebly nie maar sy geskrifte, liedjies en tuisopnames het uitgekring na boeke, sangbundels, langspeelplate, CD’s, video’s, mp3’s, YouTube, en word gesing by braaivleise, kerkdienste en partytjies.

Gedurende 2013 is Koos se bekendste lied, Kinders van die wind in ‘n landswye kompetisie aangewys as die grootste Afrikaanse lied van alle tye.

Die jaar 2015 is die jaar waarin Koos reeds 31 jaar gelede oorlede is.

Skakel Hoërskool Merensky indien u belangstel om hierdie vertoning by te woon.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button