Vossies vaar goed teen Rustenburg
Die Hoërskool Ben Vorster se rugbyspanne het die afgelope naweek hulle laaste vriendskaplike wedstryde teen die Hoërskool Rustenburg gespeel, voor die liga aanstaande naweek begin.
Die O/14A-span het goed begin en was halftyd 15 – 5 voor. In die tweede helfte het hulle egter ‘n insinking ervaar en net-net met 20 – 17 gewen.
Die O/14B-span was op die oorlogspad en hulle het Rustenburg verslaan met 48 – 0. Die jong buffeltjies het 8 drieë gedruk en met alles in hulle gekeer dat Rustenburg nie punte kon aanteken nie. Veral Matome Monyama verdien erkenning vir die 4 drieë wat hy gedruk het.
Die O/15A-span het skitterende rugby gespeel, met die agterspelers wat ‘n paar uitstekende drieë gedruk het om met 29 – 19 te wen. Die O/15B-span het voortgebou op hul skitterende seisoen en met 22 – 14 gewen in ‘n klipharde wedstryd.
Die O/16A-span was in ‘n taai tweestryd gewikkel met rotsvaste verdediging deur albei spanne. Toe die eindfluitjie blaas, moes die spanne die louere deel met 7 elk. Die O/16B-span se spel was indrukwekkend en hulle het hul opponent platgevee met ‘n telling van 48 – 10.
Die 3de span het gespeel teen DZN en hulle wedstryd met 29 – 10 gewen, terwyl die Nyathi’s weereens briljante rugby teen Rustenburg gespeel het. Met die twee vuurvreter flanke, Marco van de Venter en Nickus van der Nest aan die voorpunt, het hulle met ‘n telling van 39 – 0 gewen.
Die 1ste span het met tye goeie rugby gespeel, met agsteman Stefan Engelbrecht en vleuel Sibusiso Mhlangeni wat beide twee drieë gedruk het. Kort voor die einde was die Vossies nog met 26 – 19 voor, maar met tyd verstreke het Rustenburg onder die pale oorgeduik om die telling gelyk te maak – 26 elk.
Die Vossies se volgende wedstryd is die FNB Classic Clash teen die Hoërskool Pietersburg op Saterdag, 29 Mei. Graag wil die Vossies die gemeenskap uitnooi om hul in rooi te kom ondersteun op dié dag.



