Local newsNews

Zander is Bestuurder van die Jaar

Zander Ernst van die befaamde Allesbeste, is Donderdag deur die Tzaneen Sakekamer met 'n meriete sertifikaat as Bestuurder van die Jaar vereer.

Na skool skryf Zander vir die graadkursus BCom Bemarking aan die Universiteit van Pretoria in, wat hy aan die einde van 2007 behaal. Aan die einde van 2008 behaal hy ook die graad BCom (Honneurs) met bemarking as hoofstudierigting.

Gedurende Januarie 2009 sluit Zander, as ‘n vierde generasie Ernst, by Allesbeste Boerdery aan om saam met sy broer, Edrean, sy pa, Andre en Liezel ‘n gedugte span te vorm.

Gou vorder hy tot algemene bestuurder, verantwoordelik vir ‘n 70 hektaar bloekomplaas asook vir alle produksie aangeleenthede m b t die vrugteboerdery van 350 hektaar, geleë op vier plase.

Die vrugteboerdery word binne twee maatskappye, AH Ernst & Seuns (Edms) Bpk en Allesbeste Beleggings (Edms) Bpk bedryf, waarvan Zander ‘n mededirekteur is.

Voorts is hy ook oorhoofs verantwoordelik vir die Allesbeste padstal.

Binne die gemelde strukture rapporteer drie bestuurders direk aan hom.

Hy is ook verantwoordelik vir alle akkreditasies waaraan voldoen moet word vir toegang tot internasionale markte.

Gedurende 2014 word Zander as die Toyota Jongboer van die Jaar vir Limpopo aangewys.

Vanweë sy kwalifikasie is Zander ook direk en indirek verantwoordelik vir alle bemarking- en promosie-aangeleenthede van die onderneming, wat onder andere die suksesvolle kommersialisering van die eg Suid Afrikaanse avokadokultivar, Maluma, die intellektuele eiendom van Allesbeste, behels.

Onder sy bekwame leiding is ‘n unieke Maluma-handelsmerk ontwerp en geregistreer asook die slagspreuk “Join the Avolution.” Met betrekking tot die handelsmerke en onder die vaandel van die vrywillige Maluma-vereniging, wat hy tot stand gebring het, in assosiasie met uitgesoekte diensverskaffers en handelaars word promosie aktiwiteite op verbruikersvlak deur Zander en sy span onderneem.

‘n Sterk markvraag, teen kompeterende pryse is sodoende in die bestek van slegs twee seisoene, binnelands vir Maluma, gevestig.

Op grond van die suksesse in die Suid Afrikaanse mark behaal, is Zander in proses om die handelsmerke in die buiteland te registreer en rolspelers daar te ondersteun ter bereiking van soortgelyke suksesse. Alle drukwerk en promosie materiaal is tot op datum deur homself ontwerp.

Onder sy leiding is ‘n Maluma-blog en –webwerf, met gedetailleerde inligting, ontwikkel.

Ondersteunend tot die suksesvolle verbouing en bemarking van Maluma, nasionaal en internasionaal, het Zander op eie inisiatief die jaarlikse Maluma dag gevestig.

Onder sy leiding is die sesde Maluma dag, wat sedert vanjaar nou oor twee dae strek, pas op 9 en 10 Maart te Hoërskool Merensky gehou, wat deur internasionale gaste van vyf lande bygewoon is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button