Local news

Gemeenskap snel te hulp na plaasaanval

‘n Welbekende bejaarde avokadoboer en sy vrou is Saterdagaand op hul plaas in Agatha deur rowers oorval en aangerand waarna die rowers op die polisie en plaaswag geskiet het terwyl hulle van die toneel gevlug het.

Dawid Grobbelaar (84) en sy vrou, Liesbet (79) is ongeveer 20:15 in hul televisiekamer deur twee inbrekers oorrompel, aangerand en vasgebind. Volgens Dawie Grobbelaar, die egpaar se seun wat op die buurplaas boer, het die twee rowers glo by ‘n venster in die sitkamer langs die TV-kamer by die huis ingebreek en het die rowers sy ouers met ‘n ystervoorwerp aangerand. “Hulle het my ma herhaaldelik oor die kop geslaan en my pa in die gesig en in die ribbes geskop en geslaan,” sê Dawie.

Volgens Dawie het die rowers sy ouers vasgebind en hul selfone afgeskakel. Hy sê dat die rowers in gebroke Engels aangedring het dat sy ouers kontant en die kluis se sleutel oorhandig. Die rowers kon egter nie die kluis oopsluit nie en Liesbet het kop gehou en aangebied om die rowers te help indien hulle haar hande losmaak. “Wonder bo wonder het die rowers haar hande en voete losgemaak.

Lees ook: Hulp vir baba Anné gevra

My ma het die kluis oopgesluit en die hulle het vyf wapens, patrone, juweliersware en ander waardevolle items gesteel. Hulle het ook my pa se trouring van sy hand afgeruk,” sê Dawie. Die twee rowers het daarna gevlug en Liesbet het na Dawid in die TV-kamer gegaan en hom losgemaak. Sy het daarna op die voorstoep uitgegaan en begin gil. Dawie, wat ongeveer 400m van sy ouers af bly, het sy ma hoor skree en het dadelik na hulle huis gejaag.

“Ek het die voorsitter van die plaaswag gebel en binne 15 minute was daar ‘n ontsaglike klomp mense, veiligheidsmaatskappye, en die polisie om te help,” sê Dawie. Dawid en Liesbet is per ambulans na Van Velden[1]hospitaal vir behandeling geneem en ‘n soektog is van stapel gestuur om die rowers op te spoor. Volgens Dawie is die rowers se bewegings deur veiligheidstelsels in die boorde opgetel en het hul gebruik gemaak van ‘n hommeltuig om vir die verdagtes te soek. Die hommeltuig het die mans waargeneem en die plaaswag en polisie het die rowers ingewag.

Lees ook: Tzaneen Country Lodge, best in Africa

“Hulle het ons egter gesien en op die polisie en plaaswaglede geskiet. Die rowers het oor ‘n draad spring het hulle twee van die gesteelde wapens en ‘n klein hoeveelheid ammunisie agtergelaat en ontsnap,” sê kol. Phoyisa Zitha, speurbevelvoerder van Tzaneen-polisiestasie. Luidens Zitha is ‘n saak van huisbraak en roof oopgemaak en duur die polisie se soektog na die rowers voort. Geen persoon is in die skietvoorval beseer nie en teen spertyd Dinsdagoggend, was die rowers nog nie gevind nie.

“Ons het informante uitgestuur en die soektog sal voortduur tot die rowers gevind word,” sê Zitha. Enigeen met inligting wat die polisie kan help om die rowers vas te trek kan Zitha by 082 414 3309 skakel. Dawie vertel dat die rowers ook ‘n familie-erfstuk, sy oupa se 7mm-Mauser-geweer met ‘n Vrystaat-embleem wat in die Anglo-Boere oorlog gebruik was, gebuit het. Die Grobbelaar-familie bedank die gemeenskap en elkeen wat gehelp soek het, vir hul bystand.

Related Articles

Back to top button