Local news

Dié 2 Plasies laat miljoene rande inrol in gewilde TV-reeks

Meer as 80 skole is besoek, waar 93 000 leerders blootstelling gekry het in die Maak My 'n Miljoenêr-kompetisie.

LIMPOPO – In ‘n ongelooflike vertoning van ondernemingsvaardighede en deursettingsvermoë, het twee Merensky Landbou Akademie-leerders en entrepreneurs, Marike Theron en Henk de Wet, die top-20 gehaal in die Maak My ‘n Miljoenêr Entrepreneur van die Jaar 2025-kompetisie op Dstv kanaal 147 via. Marike het algeheel derde en Henk het algeheel vierde geëindig.

Dié landwye entrepreneurkompetisie vir hoërskole het die doel om bewusmaking van entrepreneurskap onder die jeug van Suid-Afrika aan te moedig asook om jong entrepreneurs te vind en met vaardighede te bemagtig en te mentor om van hul miljoenêrs te maak.

In die finale episode van die reeks op 30 Oktober is die top-20-finaliste tydens ‘n gala-aand by die Atterbury-teater in Pretoria onthaal.

Die 2025-seisoen het afgeskop met meer as 80 skoolbesoeke landwyd, waar meer as 93 000 leerders blootgestel is aan entrepreneurskap. Uit 240 inskrywings is die top-20, ‘n groep uitsonderlike jong mense wat deur intense uitkloprondes en talle uitdagings moes werk om uiteindelik by die gala-aand hul plek op die verhoog te verdien.

Die kompetisie se mentorskapprogram, onder leiding van Albert van Wyk, ‘n entrepreneur, eiendomsbelegger, spreker en skrywer, saam met vorige wenners Matthew Blauw (2022), Shaniqua Steenkamp (2023) en Jason Coulson (2024) het die deelnemers gehelp om hul ondernemings oor agt maande te laat groei. Saam het die top-20-entrepreneurs toe ‘n indrukwekkende totale omset van R2 138 569 en totale wins van R1 340 131 gegenereer in slegs agt maande, ‘n bewys dat die projek werklik ‘n impak maak, en die jeug bemagtig om as entrepreneurs en toekomstige besigheidseienaars uit te blink.

Marike sal nou onder Van Wyk se mentorskap wees vir ‘n jaar waar sy leiding gaan ontvang om haar besigheid verder te groei tot op miljoenêr-status.

Die reeks is op DStv Catch-up beskikbaar. Vir verdere inligting oor die kompetisie, besoek www.maakmynmiljoener.co.za of kyk na die vorige jaar se reeks op YouTube, @maakmynmiljoener.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button