Sport

Tzaneener wen GStrofee in Albanië

Die 19-jarige Gerrit du Toit het van 4 tot 10 September in Albanië meegeding teen die beste avontuur-motorfietsryers in die wêreld om die internasionale GS-trofee te lig.

Die jong motorfietsryer vertel dat hy en sy twee spanmaats derdeplek op die ranglys beklee het tot en met die derde dag van die uitdagende motorfietswedren. “Dit was vir my ‘n hoogtepunt toe ons op die vierde dag kon saamstaan en fokus op spanwerk om die GS-trofee te wen,” vertel Du Toit. Na dag vier het die span die tweedeplek op die ranglys beklee, net een punt agter die Verenigde Koninkryk se span, en teen die finale dag het die SuidAfrikaanse manspan, en Du Toit, die eerste trappie op die podium volgestaan.

Hulle het die GS-trofee gewen met 217 punte, gevolg deur die spanne van die Verenigde Koninkryk met 204 punte en Duitsland met 185 punte. “In 2021 het ek in die GS-kwalifiserende streekskompetisie gewen en in September het ek in die nasionale GS-trofeewedren teen die bestes van elke provinsie in die land deelgeneem,” verduidelik Du Toit. Na hy by die nasionale kompetisie eersteplek behaal het, is Du Toit gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig by die GStrofee in Albanië.

Lees ook: Letaba Ou-Manne gee Jongmanne pakslae

Dié avontuur-motorfietswedren vind elke twee jaar plaas en ryers mag slegs een maal deelneem aan die wedren. “Dit is een van daardie geleenthede wat mens net een maal in ‘n leeftyd kry. Die hele ervaring was vir my ‘n hoogtepunt,” vertel Du Toit. “Die roetes wat ons in Albanië gery het was besonder tegnies. Volgens ander deelnemers was dit die mees tegniese roete nog vir die GS-trofee. Dit is klipperig, nat, ons het modderige en baie water ook op die roetes gehad,” verduidelik Du Toit.

Die GS-trofee se roete van 1230km het van die Dinariese Alpe, Pindusbergreeks na die Meditereense see gestrek. Du Toit se liefde vir die sport is vroeg in sy lewe deur sy pa aangewakker. “Ek het op 5-jarige ouderdom reeds begin motorfietsry. My passie vir motorfietse kom vir seker van my pa af. Hy het altyd saam met my motorfiets gery en ek kyk op na hom,” sluit Du Toit af.

Related Articles

Back to top button