Atlete geniet ‘n Reënerige Ultra
Langafstand-veldatlete van regoor Suid-Afrika het Saterdag aan die HiTec Magoebas Ultra 50km-, 36kmen 10km-wedlope deelgeneem.

Mariska Bosch, ‘n plaaslike atleet, het Saterdag die derde plek in die vroue-afdeling van die 50km wedren gevat met ‘n tyd van 8:09:25. Sy vat ook tweede plek in haar ouderdomsgroep en is algeheel 18de in die uitdagende veldwedloop. “Om in sulke nat en gladde toestande deel te neem was een van my grootste vrese,” vertel Bosch. “Ek het twee weke voor die wedloop met die organiseerder gesels en gevra of hy dink ons gaan ‘n nat wedloop hê.
Toe hy sê dat hy dink dit gaan reën, het ek my kop daarvolgens ingestel,” vertel sy. “Ek het toe eintlik lekkerder gehardloop en al was my tyd effens stadiger as verlede jaar het ek sterker gevoel by die eindstreep,” sê sy. Sy voeg by dat dit vir haar ‘n eer was om saam met Nicolette Griffioen en Karine Bezuidenhout, twee legendes in veldwedloopkringe, op die podium te wees. Leon Roode, ‘n ultra-atleet van Tzaneen, sê dat die 50km-roete was vir hom ook uitdagend veral in die koue en nat toestande.
Lees ook: Letaba reg vir lang pad na Musina
“Die erosie op die roete met soveel mense wat hardloop het gesorg dat dit glad en modderig op die pad was,” vertel Roode. “Die organisering van die HiTec Magoebas Ultra is vir my ‘n hoogtepunt van die dag. Dit is regtig puik en kan vergelyk word met van die groter wedrenne wat ek al aan deelgeneem het,” voeg hy by. Roode het die wedloop in 6:32:27 voltooi en tweede plek in die 35 tot 39 jaar-ouderdomskategorie gevat met dié tyd. Hy is algeheel sesde en vyfde in die mansafdeling.
Hy meen dat die wentyd steeds in toekomstige wedlope verbeter kan word in droeër toestande. Ryan Hyde van Politsi het die algehele 12de plek gevat en vat ook sewende plek in die 20 tot 34 jaar ouderdomskategorie. Hy is tiende in die mansafdeling. Remaketse Lekaka is die algehele wenner van die 50kmwedloop met Marcel Jooste in tweede plek en Thabang Madiba in derde plek. Lekaka het die resies in 5:37:07 gehardloop.
Also read: Ockert Maritz is champ of Wik’s Stanfordian race
Nicolette Griffioen vat eerste plek in die vroueafdeling met ‘n tyd van 06:10:15 en Karine Bezuidenhout is in die tweede plek. In die 36km-wedloop vat Ofentse Mokgale die eerste plek met ‘n tyd van 4:14:04. Rory Pelse is in die tweede plek en Katleho Seisa is in die derde plek. Lindy du Preez wen die vroue-afdeling met Jannika Kootzen en Laura Beamish in tweede en derde plek, onderskeidelik. Vir volledige uitslae gaan na www.finishtime.co.za.