Local sport

Letaba se tweede span wys hul staal

Letaba se tweede span het Saterdag hulle beste wedstryd van die jaar teen Nkowankowa-rugbyklub se eerste span gespeel.

So sê Dippies de Beer van Letabarugbyklub se afrigtingspan. “Die voorspelers en agterspelers het goed gespeel en dit was ‘n belangrike wen vir Letaba en is goed vir die span se selfvertroue,” sê De Beer. Die manne van Nkowankowa het goed gedoen om onlangs Noordelikes se tweede span pakslae te gee, maar moes Saterdag op Letaba se tuisveld die knie buig in ‘n Tzaneen-derby van die Blou Bulle-rugbyunie se Noordstreek se tweede liga.

Janco Grobler op skrumskakel, Dirkie Coetzee as 12-senter en Rudi von Abo op slot het hard en goed gespeel, maar die speler van die wedstryd-toekenning het aan Pieter Oosthuizen gegaan wat ‘n uitstekende wedstryd gespeel het. Damien Brass, Rudi Grobler en Eben Fichardt het elkeen ‘n drie gedruk en losskakel Gideon Joubert het met drie doelskoppe en twee strafskoppe geslaag. Letaba 2 het die wedstryd 27-7 gewen.

Lees ook: Letaba eerstes wen met 50 punte

Die volgende wedstryde sal op 1 Junie by Letaba-rugbyklub op Tzaneen plaasvind met die eerste en tweede spanne van Louis Trichardt-rugbyklub wat vir die ligawedstryde sal reis. Die klub nooi graag die dorp se rugbyliefhebbers om die dag se rugby te kom geniet. “Ons vra graag dat mense die spelers moet kom ondersteun.”

“Dit gaan goeie, harde klubrugbywedstryde wees en ons sien uit na die sterk opposisie van Louis Trichardt-rugbyklub,” sê De Beer. Letaba se eerste span het in Februarie tydens die Tolmay-rugbydag vir die eerste keer in sewe jaar ‘n oorwinning teen die span van Louis Trichardt behaal. Dit was nou wel ‘n vriendskaplike wedstryd, maar volgende Saterdag sal dit plaaslike klubrugby op sy beste wees om dit te herhaal.

Related Articles

 
Back to top button