Vossie netbalspan maak skoonskip
Die O/15-netbalspan van die Hoërskool Ben Vorster het skoonskip gemaak by die O/15-Limpopo netbalkampioenskap wat die afgelope naweek plaasgevind het.
Hierdie kampioenskap, wat deur die Kay Motsepe stigting geborg word, was die laaste provinsiale netbalkampioenskap, wat nog hierdie seisoen gespeel moes word.
In totaal het die Vossies hierdie jaar drie netbalspanne, wat Limpopo kampioene is, een span wat naaswenners is en een span wat derde in die provinsie geëindig het.
Die Hoërskool Ben Vorster is dus weer eens die beste netbalskool in die provinsie.
Die O/15-span het geen gelyke in die provinsiale netbalkampioenskap gehad nie en hulle het nie ‘n enkele wedstryd verloor nie. In die poelwedstryde het hulle Hoërskool Frikkie Meyer 14-8, Hoërskool Nylstroom 21-5, Hoërskool Heuwelkruin 20-4 en Hoërskool Frans du Toit 14-2 gewen.
In die kwartfinale het hulle met Hoërskool Merensky, met ‘n telling van 14-2, afgereken waarna hulle in die finaal weer teen Hoërskool Frikkie Meyer te staan gekom het.
Die Vossies ht die finaal oortuigend 15-6 gewen.



