Pasop vir vriendelike “Oom Jan” en sy “tannie Elsie”
’n Man kan nie glo dat hy so maklik vir ’n “vriendelike oom” se storie geval en R2 500 se lugtyd aan hom oorbetaal het nie!
Mnr. Gawie Koekemoer het steeds die lugtydstrokies wat hy vir “Oom Jan en tannie Elsie” gekoop het en is hoogs verontwaardig oor hoe maklik hy oortuig is.
“Die omie was ongelooflik oortuigend en vriendelik. Ek het nie een keer onraad vermoed nie. Eers toe ons by ’n ander plaas navraag doen en hulle sê daar is nie so ’n plaas in die omgewing nie, het ek besef ek is ingeloop!”
Sy vrou het hom Dinsdagoggend gebel en gesê dat ’n boer haar gebel het en wil vleis skenk vir armes, aangesien hul vrieskas afgeloop het. Hulle help ’n paar behoeftige gesinne en sy het dadelik haar man gevra om “Oom Jan” terug te bel.
“Oom Jan” het vir hom gesê sy groot vrieskas het gebreek en hy wil graag ’n bees- en vark agterkwart vir hom skenk vir die armes. Mnr. Koekemoer het sy kollega, André Grobbelaar gevra om saam met hom te ry, sodat hulle die vleis kan gaan oplaai en so gou as moontlik onder die behoeftige gesinne versprei.
Lees ook: Talle geteiken deur lugtyddief
“Hy het vir my beduie dat sy plaas, Vergelegen, presies 26.3km uit op die Stoffbergpad geleë is.” Hulle was al amper buite die dorp toe “Oom Jan” hom terugbel en vra of hy dalk vir hom en sy vrou “Elsie” ’n “guns kan doen.”
Mnr. Koekemoer het die “ou mensies” jammer gekry en hom verseker dat hy hulle sal help.
“Hy het gesê dat hy nie nou kan inkom dorp toe nie en dat sy trokke dringend moet uit en hy moet lugtyd vir sy drywers kry. Hy het ook gesê dat hy en die tannie lugtyd nodig het. Hy het beloof dat hy die kontant sal gee, as ons op die plaas kom.”
Mnr. Koekemoer het omgedraai en die R2500 se lugtydstrokies gekoop.
Pas weer terug op die pad het “Oom Jan” gevra of hy nie gou die kodenommers vir hom wil lees nie, aangesien die drywers haastig is. Hy het dit vir hom gestuur en op daardie stadium begin soek na die plaas.
Nadat hulle heen en weer gery het, het hy ingedraai by ’n ander plaas en gevra of hulle weet waar “Vergelen” is. Die boer het gesê dat hy al jare daar bly en daar beslis nie so ’n plaas in daardie omgewing is nie.
“Eers toe het ek besef ons is gevang!”
Beide die mans het met die hulp van ’n Toep (App) ’n ligging nasporing (Pin Location) met beide se fone gedoen en gejaag na waar die adres aangedui is. Die ligging was presies voor die St John Presbiteriaanse Kerk in Bhimy Damanestraat!
•Eerwaarde Kokkie Smith sê hy was verstom toe die mans by hom navraag doen oor die lugtydboef. Wat hy wel onthou, is dat daar Dinsdag ’n voertuig lank in die straat naby die kerk gestaan het.
Hyself was verlede jaar so byna die slagoffer van ’n lugtydboef, maar toe die persoon vir lugtyd vra, het hy hom berispe en vir hom gebid!
Lees ook: Boef kry gebed in plaas van beltyd
•Deur die jare is talle berigte oor die lugtydboef/boewe gedoen en het ’n privaat ondersoekmaatskappy een van die boewe teruggespoor tot in ’n tronk. Die boewe dien gewoonlik ’n lang tronkstraf uit en het niks om te verloor as hulle vasgetrek word nie.
Die lugtyd wat hulle so steel, word onder mekaar in die tronke verkwansel vir dwelms en ander benodigdhede.
•Privaat ondersoeker Anthony Boucher (SA Investigations) het die nommer wat die boef nagegaan en sê dit is beslis nie ge“Rica” nie.
Hy het gesê as hy meer inligting oor hom kry, sal hy dit aan die joernalis verskaf.
Mnr. Boucher het wel genoem dat die ligging nasporings op Toeps nie baie betroubaar is nie.
“Ek het al ’n ligging nasporing gedoen waar ’n persoon langs my met sy selfoon sit in Middelburg, dan sê die nasporing die persoon is in Roodepoort!”
