Die Erfenisstigting het Natie du Toit ook nou vereer.
Hulle skryf onder die opskrif Vrouemaand/Vrouebeelde in Suid-Afrika.
“Ken jy die verhaal van die aronskelke?
“Die standbeeld van ’n jong meisie wat oorspronklik voor die Pretoria Onderwyskollege gestaan het, dra die woorde: “Moed, Blymoedigheid en Kalmte van gees.” Hierdie beeld is geïnspireer deur Natie du Toit, ’n verpleegster wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die Middelburg-konsentrasiekamp diens gedoen het.
“Te midde van lyding het sy armsvol aronskelke gepluk om tente te versier en kransies te maak – ’n eenvoudige gebaar wat hoop en skoonheid gebring het waar dit die nodigste was. Vandag leef haar nalatenskap voort in hierdie beeld, wat nou op die Universiteit van Pretoria se Groenkloof-kampus staan.”

’n Eksemplaar van Waarde ver bo korale: 30 Vrouebeelde in Suid Afrika deur Elizma Smith kan by KultuurKafee: https://kultuurkafee.com/…/waarde-ver-bo-korale-30…/ bekom word.
Rudi van Wyk het in die weeklikse rubriek “MIDDELBURG ERFENIS: Die week in Middelburg se Geskiedenis – Junie 2026” geskryf “Natie du Toit – Die wel en weë van Middelburg se eie Boere-heldin in die Oorlog en haar lewe daarna.”
Natie du Toit word op 12 Januarie 1880 op Middelburg gebore as Johanna Petronella Wilhelmina du Toit. Sy is een van agt kinders van Gert Johan Wilhelm du Toit, ’n landdros van Middelburg, en sy vrou Johanna Petronella Wilhelmina du Toit.
Dit is onbekend waar Natie op skool was, maar dit word vermoed dat sy net soos haar jonger broer, Gert Johan du Toit, ’n leerling van Ebenaezer skool was, wat maar sowat 50 meter van hulle woonhuis op die hoeke van Coetzee- (nou John Magagulastraat) en President Krugerstraat (nou Dr. Beyers Naudéstraat) in Middelburg gestaan het. (Akkerhof woonstelle staan nou op daardie hoek).
Op die Suid-Oostelike hoek van die twee strate was die Excelda weeshuis, waarna in vorige Middelburg Erfenis inligtingstukke verwys is. Natie se ouer suster Elizabeth (Bettie) was een die onderwyseresse van Excelda weeshuis.

Natie word op 1 September 1901 ’n inwoner van die Balmoral Konsentrasiekamp en kort daarna oorgeplaas na die Middelburg Konsentrasiekamp waar sy een van die Kampskool se onderwysers was.
Natie arriveer op 1 September 1901 in die Balmoral Konsentrasiekamp, maar word kort daarna oorgeplaas na waarskynlik die tweede konsentrasiekamp op Middelburg, waar sy een van die kampskool onderwysers word. Haar pa en res van gesin kom 26 September 1901 ook in die kamp aan.
Dit is volgens bronne tydens haar verblyf in die Middelburg Konsentrasiekamp dat sy aronskelke in die vleie naby die kamp afsny en die blomme op grafte plaas.
Sy plaas ook van die aronskelke in tente van die inwoners. Die aronskelke het vir Natie en haar mense hoop, vertroosting en skoonheid tussen die ellende gebring.
Daar word ook genoem dat Natie tydens haar verblyf in die kamp verpleeg het. Daar kon geen bronne vir hierdie stelling gevind word nie en word vermoed dat Natie van die siekes in die kamp help versorg het.
Na die ondertekening van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 sluit die konsentrasiekampe stelselmatig en keer inwoners terug na hulle plase.
Na vredesluiting sluit sy aan as student van die nuutgestigte Normaalkollege (Onderwyskollege) Pretoria. Sy verlaat die kollege op 26 Junie 1903.
Daar word vermoed dat sy een van twee kwekeling onderwysers van die Ebenaezer skool naby haar ouerhuis geword het.
Natie tree op 14 Desember 1905 in die Witkerk, in die huwelik met George Truter Robertson. Die huwelik word voltrek deur ds. GJ Rousseau.
