“Today 38 years ago the guns fell silent in Southern Angola…”.
’n Boodskap wat wyd rondgestuur is die afgelope paar dae.
Dit was die einde van die grensoorlog.
’n Oorlog waaroor ’n nuwe geslag koud staan.
Maar ’n oorlog wat steeds in duisende Suid-Afrikaners se harte brand.
Vir altyd vasgebrand is.
’n Oorlog wat groot pyn en verliese tot gevolg gehad het en geveg is in ’n vreemde land.
Middelburg het sentraal gestaan in hierdie oorlog.

Met 4 Suid-Afrikaanse Infanterie Bataljon ’n belangrike deel van die dorp, het die grensoorlog geskiedenis ook Middelburg se geskiedenis geword.
By die ingang van die eenheid is daar in die tagtigerjare ’n monument opgerig vir die gevalle soldate.
Die Middelburg Observer het gereeld berig oor die eenheid se lief en leed.
Nie net oor verliese nie, maar ook oor sy sportprestasies, sy legendes soos majoor Doppies Kotze, kommandante Andre Kruger, Izan Leibrandt, Leon Marais, staf sersante Lappies Labuschagne en Bossie Boshoff, sersant majoor Eddie Heimann, regiment sersant majoor Robbie de Morney, kapelaan Awie Erxleben en staf Otto van die militêre polisie
Jong troepe het hulle weg gevind deur 4SAI en later hulle plek in die samelewing volgestaan soos Gert Lindeque wat vandag ’n skoolhoof is, Coena Swart wat vir jare by Hoërskool Middelburg gewerk het, die Suid-Afrikaanse fietsry kampioen Louis Janse van Rensburg, Kappie Kapp wat later diep spore getrap het in die dorp se rugby, en talle ander.

Die bekende sportsielkundige, dr Henning Gericke, was selfs ’n tyd lank deel van die 4 SAI span.
Duisende troepe is hier opgelei.
Hulle het per trein op die stasie aangekom, waar hulle “vriendelik” ontvang en met Bedfords na die basis aangery is.
Sommige het eers hulle sewe weke basiese opleiding op Middelburg voltooi en is daarna oorgeplaas na 7 SAI op Bourkes Luck.
In die sewentigerjare was daar twee kompanies by Doornkop gesetel.
Die Aasvoëlkrans Skietbaan is vir skietoefeninge gebruik.
Troepe het met hulle volle uitrusting vanaf die basis na die skietbaan gestap, wanneer daar aan skietoefeninge deelgeneem is en dit was nogal ’n gesig om te sien hoe die kompanies in Meyerstraat, R1 geweer in die hand afstap, links draai in Protea en dan weer regs op die Loskopdampad, tot by die skietbaan.

In die laatmiddae het pelotons, begelei deur ’n blaffende korporaal, in Brug- en Meyerstraat die jong soldate laat draf, netjies in gelid, almal eenvormig aangetrek.
Werknemers van OH Frewin Drukkers en die Middelburg Observer personeel, het dan nuuskierig op die stoep gestaan en kyk hoe word die troepe met hulle kaalgeskeerde koppe rondgejaag.
Na sewe weke basies, is ouers toegelaat om saam met hulle seuns piekniek te hou by die eenheid.
Die tafeltjies en stoeltjies waar hulle gesit het, is vandag nog sigbaar aan die linkerkant van die hoofhek.
Vrydae was dit kerkparade en het pastore en predikante van die dorp die eenheid besoek.

Daar was weekliks ’n sportparade en die eenheid het ’n sterk rugby en marathon span gehad.
Die Suid-Afrikaanse weltergewig kampioen, Harold Volbrecht, het sy basiese opleiding by 4 SAI begin.
Dit was ’n netjiese eenheid met sportfasiliteite, ’n uitstekende offisiers- en onder offisiers kroeggedeelte en groot onthaalsaal waar daar gereeld ’n swierige militêre bal gehou is.
Die ete en verrigtinge was styweboordjie geleenthede met vroue uitgevat in aandrokke en die mans in hulle militêre uitgaan pakke. Daar was streng reëls wanneer en hoe jy moes eet.
Kommandant Leon Marais, wat ’n groot rol gespeel het tydens Operasie Modulêr en sy vrou, Driesa, was van die laaste bevelvoerderspare wat so bal aangebied het.
Die bulte na die noorde kant en ook die gruisgat, is gebruik vir opleiding, met die paradegrond meer na die suidooste toe.
4 Suid-Afrikaanse Infanterie Bataljon (4 SAI) is op 1 Januarie 1962 in Voortrekkerhoogte, Pretoria, gestig en het kort daarna na Middelburg verskuif met kommmandant Van Dyk die eerste bevelvoerder. Die eenheid het gedien as ’n operasionele gemotoriseerde en later meganiese infanteriebataljon tydens die grensoorlog.

Die eerste troepe het hulle opleiding in 1969 begin.
Die eenheid het onder andere deelgeneem aan Operasies Dolfyn, Askari, Modulêr en Hooper.
Tydens Operasie Askari (1983–1984) het 14 soldate van 4 SAI gesterf.
Die Suid-Afrikaanse Grensoorlog het amptelik in 1989 geëindig, ná meer as 23 jaar van konflik, wat gelei het tot die onafhanklikheid van Namibië op 21 Maart 1990.
4 SAI troepe het in groot getalle op die Middelburg Stasie aangekom en in ’n konvooi na die hoofbasis gery.
Die Middelburg Observer het vanaf Meyerstraat tot by die hoofhek plakkate opgesit wat hulle terug verwelkom het.
Een van die plakkate is geraam en hang in die OH Frewin Museum vir die Druk- en Gemeenskapspers.
’n Somber atmosfeer het geheers.
Op die plakkaat het daar gestaan: “Julle is die beste”.