Floris het in Operasie Protea gesterf
Jong soldaat enigste van grensoorlog helde wat in heldedakker begrawe is
Floris Cornelius Smit het in Operasie Protea gesterf.
Dit was een van die grootste Suid-Afrikaanse Weermag-invalle tydens die grensoorlog.
Gemeganiseerde kolomme van die Suid-Afrikaanse Weermag het Angola oorgesteek en diep tot binne die Cunene-provinsie gevorder.
Vandag is sy graf die enigste van die grensoorlog helde in die heldeakker op Middelburg.
Toe die Steve Tshwete Munisipaliteit navraag doen oor die Smit familie, kon geen naasbestaandes opgespoor word nie.
Die munisipaliteit wou hulle uitnooi na jeugdagvieringe Dinsdag by die heldeakker langs die ou begraafplaas.
Smit was maar 18 jaar oud toe hy gesterf het.

Op 24 Augustus 1981 het twee gemeganiseerde kolomme, insluitend die 61ste Gemeganiseerde Bataljon, pantsermotor-eskaders (Ratel 90 en Eland 90), artillerie, ingenieurs en ondersteuningselemente, die grens oorgesteek onder swaar aanvalle van die Suid-Afrikaanse Lugmag.
Binne dae het hulle Xangongo (’n belangrike SWAPO-hoofkwartier en opleidingsentrum) verower.
Teen 26 Augustus het die SAW na Ongiva, nog ’n belangrike logistieke vesting, gevorder.
Xangongo het SWAPO se noordwestelike operasies gekoördineer.
Die SAW het op groot hoeveelhede wapens, brandstof en voertuie beslag gelê terwyl hulle byna 40 000 km² van Angolese grondgebied beset het. Garnisoene is in beide dorpe gevestig, wat beheer gekonsolideer het voor die opvolg-Operasie Daisy later daardie jaar.
Smit het op die eerste dag van die operasie gesterf, 24 Augustus.
Volgens inligting was hy lid van 1 Suid-Afrikaanse Infanterie Bataljon van Bloemfontein, ’n skutter van Bravo seksie, peloton een.
Die omstandighede van sy dood is vaag maar hy is glo dood toe ’n fopmyn ontplof het. Hy is deur sy eenheid afgevoer maar het nie oorleef nie.
Sy familie of troepe wat saam met hom was kon nog nie opgespoor word nie.
