Die Week in Middelburg se Geskiedenis 22 Junie 2026
Gert Roets – 13-jarige Krygsgevangene - van ’n foto na ’n lewensverhaal!
Op ’n historiese foto geneem op St. Helena circa 1902-3, verskyn agt seuns wat krygsgevange was, saam met twee burgers en items wat hul gemaak het. Tinus le Roux het die foto besonders gekleur vir ’n werklike unieke beeld van die groep.

Dr Vicky Heunis van die Oorlogsmuseum van die Boere Republieke was in staat om uit die databasis die seun regs agter as Gerhardus Jacobus Roets van Middelburg te identifiseer.

Biografiese data
Gerhardus Jacobus Roets is circa 1888 op Enkeldebosch (295) distrik Middelburg gebore as waarskynlik die tiende kind van die vader: (Ouderdom ten tye van die Anglo-Boereoorlog):
- Vader: Christoffel Jacobus Roets (1841-1922) (61 jr)
- Moeder: Anna Sophia Roets (Née Pretorius) (1846-1933) (59 jr)(Sy vader was tevore getroud met Cornelia Margaretha Smit (1845-1868) )
- Gesin: Volgens die Konsentrasiekamp Register
- Christoffel Jacobus (30 jr)
- Anna Sophia Roets (25 jr)
- Johannes Lodewickus Petrus Roets (24 jr)
- Aletta Elizabeth Roets (23 jr)
- A(E)ngela Helena Roets (22 jr)
- Jacoba Elizabeth Roets (20 jr)
- Maria Magdalena Roets (17 jr)
- Cornelia Magretha Roets (16 jr)
- Gerhardus Jacobus (13 jr)
{Die dogters word almal in die Konsentrasiekamp Register gelys as dogters van Anna Sophia, maar daar is aanduidings dat Anna Sophia en Cornelia Margaretha nie haar dogters was nie).

Periode voor die Anglo-Boereoorlog
Die gesin woon aanvanklik in Frankfort distrik in die Oranje-Vrystaat en verhuis in 1888 na die Zuid-Afrikaanse Republiek. In die aanloop tot die Oorlog woon die gesin op Boschmanskranz (156). Gerhardus is op die buurplaas Enkeldebosch (295) gebore. Volgens die Britse Oorlog-rekords het die plaas Boschmanskranz behoort aan Marthinus Jacobus Francois Gouws.

Die lys van stemgeregtigdes dui aan dat twee Roetse op Boschmanskranz woon.

Die Roets gesin was dus bywoners op die plaas en was behoeftig. Hulle woon in ’n klein vier-vertrek huisie, met waarskynlik ’n buite kookskerm.

Gesin tydens die Anglo-Boereoorlog
In September 1899 mobiliseer Christoffel Jacobus, ten tye 61, en sy seuns Christoffel Jacobus (30 jr), Johannes Lodewijkus Petrus (24 jr) en Gerhardus Jacobus (13 jr) as deel van die Middelburg Kommando onder bevel van kommandant Piet Trichard en kommandant W.J. Mouton. Hulle neem deel aan die gevegte by Dundee, Tugela, Bakenlaagte en Donkerhoek. Christoffel Jacobus (30 jr) word verkies tot korporaal onder kmdt. W.J. Mouton en word verwond in ’n skermutseling op 11 Desember 1901 by Vlakvarkfontein (101), distrik Pretoria en saam met twee ander Boere krygsgevange geneem. Die tweede oudste seun, Johannes Lodewijkus Petrus Roets (24 jr) was ook deel van kmdt W.J. Mouton se kommando.
Op 18 Desember 1901 word die pa, Christoffel Jacobus Roets en sy jongste seun, Gert Jacobus Roets, saam met nog 31 Boere krygsgevange geneem deur maj. William John C Butler en 400 man van die 6th Carabineer Dragoon Guards by Schoongezicht (33) suid van Balmoralstasie, distrik Witbank (eMalahleni).
Die Roets-gesin was deel van maj. Jan Francois Wolmarans van die Staatsartillerie se laer en is saam met Maj. Johannes Lodewyk (Lood) Pretorius – die bekende Skote Petoors van die Staatsartillerie- en ten minste nog sewe artilleriste, gevange geneem.

Maj. Lood Pretorius vertel in sy memoirs dat nadat hulle dae tevore by Sammy Marks se huis ’n draai gemaak het, voortgetrek het tot by die heer Greyling se huis waar hulle afgesaal het. Hy skryf die volgende: “Die more van die 18de Desember 1901 omtrent so teen agt uur sê majoor Wolmarans vir my: “Luitenant Malan en ek ry so oor na Vlakvarkfontein (dis die aangrensende plaas). Ons gaan vrugte haal en dan sal ons sommer ook spioen”. Dit was laatste wat ek van die majoor gesien het, vir ’n tyd in alle geval.

Omtrent so teen nege uur het ek laat afsaal en Gert van Rensburg, my ordenans, het ’n ou mieliemeul daar êrens opgetel, van die soort wat aan ’n boom of ’n paal met boute of spykers of andersins, vasgesit word. Hy bring dié na my en vra of ek nie die meul kan regmaak nie hy wil vir ons mielies maal. Ek het toe die ou ding uitmekaar geskroef (want ek het altyd een van die groot tange aan my saal gedra eintlik om draad mee te knip), binnekant skoongemaak so goed as ek onder die omstandighede kon, weer aanmekaar gesit, aan ’n boom vasgetimmer en ’n klomp mielies voorlopig eers gemaal om die meul verder nog skoon te kry en die ergste roes af te kry.
“Meteens sê iemand: “Maar watter mense is die?”. ’n Tiental perderuiters was omtrent 400 treë van ons. Ons het op hulle geskiet en hulle weggejaag tot bo op die bult. Ek dag dis miskien weer van die blokhuise se Engelse want die dag vantevore was ons met hulle in aanraking. Ek het ’n verkyker en ’n bandolier vol patrone afgeneem van een wat ek gevang het. Prisoniers kan ons natuurlik nie hou nie, ons het nie eers kos vir ons self nie.
“Ek wou hulle agterna sit en gee bevel om die perde te vang, wat deur die geskiet die loop geneem het al met die leegte af, die beeste het ook onder in die leegte gewei. Die Engelse het natuurlik nie stil gesit nie. Hulle was omtrent ’n 500 man soos ek geskat het na die slag verby was. Weerskante agter die bulte van die leegte is hulle af en toe ek sien sluit die Engelse onder in die leegte by mekaar tussen ons en die perde en beeste. Ons was so netjes omsingel as jy maar ooit kon sien. Daar was ’n beeskraal en ek met omtrent tien man is in die kraal. Die Engelse lê in die hoë gras weerskante en skiet dat dit gons in die kraal. Ons moes maar net skiet waar ons iets sien roer. Dit het nie lank geduur of ons patrone was gedaan en of dit gedaan was of ek het niks aangegee nie, dit was klaar met my, met ons.”
Die Britte buit ook 200 beeste tydens die skermutseling. Volgens Lood Pretorius se herinneringe is hulle vir drie dae by Brugspruit in ’n tipe fortjie aangehou en toe drie dae in Pretoria. Op 25 Desember 1901 kom hulle aan in die krygsgevangenekamp en ontvang verwysingsnommers – Christoffel Jacobus (61 jr) 27432 en Gerhardus Jacobus (13 jr) 27434 word na St. Helena gestuur. Christoffel Jacobus (30 jr) 27435 word na Indië weggestuur. Johannes Lodewijkus Petrus word nie gevang nie, en was ’n bittereinder. Hulle het waarskynlik met die Orient op 17 Januarie 1902 vanaf Durban vertrek en St. Helena op 25 Januarie 1902 bereik, as deel van 1050 krygsgevangenes op die skip. (Alternatief was die Britannic wat 19 Februarie 1902 vertrek het en St. Helena 27 Februarie 1902 bereik het).

Anna Sophia en haar ses dogters (waarskynlik ook dogters uit die vader se eerste huwelik) word gevange geneem en op 6 Maart 1902 opgeneem in die Middelburg konsentrasiekamp en geakkommodeer in Blok B, tent 2080. Sy was 59 jaar oud ten tye en haar eggenoot was toe reeds krygsgevangene op St. Helena.
Volgens die verslag ingedien vir kompensasie is die huis en lewende hawe alles geplunder deur die Britte. Ongelukkig word geen datum aangedui wanneer dit gebeur het nie.

Gerhardus Jacobus (Gert) op St. Helena
Geen spesifieke inligting is oor hom bekend nie. Hy is waarskynlik saam met sy pa aangehou en was deel van die groot groep Penkoppe wat op St Helena krygsgevange gehou is.
JKM Broekhorst, voormalige Inspekteur van Onderwys,ook ’n krygsgevangene, het saam met kommandant Sarel Eloff ’n skool gestig vir die kinders wat krygsgevangenes was, maar ook vir onderrig aan van die volwassenes in basiese lees en skryf. Die skool begin reeds op 28 Julie 1900 funksioneer, so teen die tyd dat Gert opdaag, was die skool in Deadwood en Broadbottom funksioneel. Die skole is voorsien van leermateriaal vanuit Nederland en uit die Kaapkolonie. Broadbottom het sowat 600 leerlinge en 25 onderwysers gehad! Die skole sluit op 15 Junie 1902. Dit is ongelukkig nie bekend in watter skool Gert was nie.

Roets gesin na die oorlog
Op 8 Augustus 1902 verlaat Anna Sophia die Middelburg konsentrasiekamp op Kanonkop met ses dogters. Hulle het almal die kamp oorleef en hulle keer terug na Boschmanskranz. As deel van die regulasies vir die sluiting van die konsentrasiekampe moes die plaaseienaar toestemming gee dat bywoners na die plaas kon terugkeer. Die Roets-gesin het toestemming gekry.
Christoffel Jacobus (61 jr.) en Gerhardus bereik die Transvaal na repatriasie op 10 Oktober 1903 (vier maande na die Vredesluiting) en Christoffel Jacobus (30 jr) eers in Januarie 1904, (sewe maande na die Vrede) – omdat hy volgens die rekord nie die Eed van Getrouheid aan die Britse Koning wou onderteken nie. Die repatriasie vind plaas met verskeie skepe vanaf 7 Julie 1902 tot 21 Oktober 1902, dit is nie bekend op watter skepe hulle gerepatrieer is nie.

Beide pa en oudste seun (na weerstand) onderteken die eed van getrouheid lank na vrede gesluit is, voor hulle na die Transvaal kon terugkeer. As minderjarige het Gert nie die eed onderteken nie.
Sy pa en broer stel na die oorlog eise vir kompensasie in. Alhoewel hul aandui dat al hul bates geplunder was, ontvang hulle nominale bedrae van £40 (ekwivalent tot R870 in 2026) vir senior en £30 (ekwivalent tot R644 in 2026) vir junior, waarvan die agent wat hul eis hanteer het ook nog ‘n deel geëis het. Dit was hul vergoeding vir hul huis en huisraad wat vernietig of geplunder is, spider-perdekar met perd, 40 beeste, skape, hoenders, makoue en kalkoene sowel as graan en wol.
Dit is onbekend of Gerhardus na terugkeer vanaf St. Helena, hy was toe 15-jaar oud, enige verdere skoolopleiding ondergaan het – dit is onwaarskynlik. Daar was voor die Anglo-Boereoorlog wel een-man skole op Welverdiend en op Vlaklaagte – plase wat albei aan Boschmanskranz grens, waar hy waarskynlik voor die oorlog op skool was. Of die skole na die oorlog weer gefunksioneer het, is onbekend. (Daar was wel ongeveer 1940 ’n eenmanskool op Boschmanskranz.) Hy sluit egter aan by die boerdery en bedryf ’n saaiboerdery op Boschmanskranz.
Hy moes hierna met die simptome van ’n breingewas begin worstel het, wat waarskynlik eers net ernstige hoofpyne sou wees. Dit wil voorkom uit sy doodsertifikaat of hy begin 1907 vir dokter Rossouw in Middelburg gesien het, en die doodgetrekte nota op die doodsertifikaat verwys na behandeling in Middelburg hospitaal en Johannesburg hospitaal vir breinontsteking (Enkefalitis) na koors. In 1907 het die Garnisoen hospitaal in Middelburg nog gefunksioneer met ‘n aantal beddens vir burgerlikes, so dis moontlik dat hy daar behandel is, terwyl die Johannesburg Algemene Hospitaal ook reeds bestaan het as die verwysings hospitaal vir ernstige gevalle.
Dr. Rossouw maak egter die finale diagnose van ’n breingewas (breinkanker), en hy is terug gestuur na Boschmanskranz, aangesien daar in die tyd geen effektiewe behandeling was vir ’n breingewas nie. Na twee maande se lyding sterf Gerhardus Jacobus Roets op 15 Maart 1907 op die plaas. Sy broer was teenwoordig tydens sy dood. Hy is waarskynlik op die plaas, wat nou ’n myn-area is, begrawe, maar die graf kon ongelukkig glad nie opgespoor word nie.
‘n Tragiese einde vir ’n jong seun op ’n foto en jong man, wat die oorlog en krygsgevangenskap oorleef het, om so te sterf. Ons eer sy nagedagtenis!

Toekennings van medaljes aan die Roetse
Gert se pa en twee broers doen aansoek vir die ABO-medalje met die instelling van die toekennings in 1922. Gert was toe reeds oorlede en daar is nie postuum vir hom aansoek gedoen vir die medalje nie. Almal ontvang die ABO-medalje en korporaal Christoffel Jacobus Roets ook die Lint voor Wonde.


Gert se ouers en boers
Christoffel Jacobus en Anna Sophia Roets verhuis op onbekende datum na die Oorlog na Nooitgedacht (72) noord van Middelburg, waar hulle skynbaar steeds bywoners was. Op 15 Augustus 1922 sterf Christoffel Jacobus op 81 jarige ouderdom op Nooitgedacht (72) en word op Klipplaatdift (52) begrawe. Op 15 Augustus 1933, dieselfde datum as haar eggenoot 11-jaar later, sterf Anna Sophia op 88 jarige ouderdom ook op Nooitgedacht en is ook op Klipplaatdrift (52) begrawe.
Sy oudste broer, Christoffel Jacobus sterf op 19 Julie 1962 op 90 jarige ouderdom op Bochmanspoort buite Middelburg en ander broer Johannes Lodiwicus Petrus op 20 Augustus 1938 op 59 jarige leeftyd op Gloria, buite Middelburg.
‘n Jong seun op ‘n foto, vertel ‘n volle lewensverhaal.
Die bibliografie is beskikbaar by die outeurs.
