Die Week in Middelburg Erfenis – 20 Julie 2026
Roberts skop vroue en kinders uit Pretoria – Hulle arriveer in Middelburg en word in die Astra-gebou geakkommodeer
Lord Frederick Sleigh Roberts (1832-1914), Britse Opperbevelhebber tydens die Anglo-Boereoorlog was vas oortuig dat na die val van die hoofstad Pretoria die oorlog verby was. Dit was immers die gebruik van die tyd, dat as ’n land se hoofstad verower word, die land sal oorgee. Die Volksraad van die Zuid-Afrikaanse Republiek besluit egter op Maandag 28 Mei 1900 om nie Pretoria te verdedig nie en verklaar Machadodorp tot tydelike hoofstad van die Republiek. Die Regering en president Kruger reis deur Middelburg na Machadodorp.
Inname van Pretoria
Op Dinsdag 5 Junie 1900 beset die Britte Pretoria sonder enige weerstand en vestig ’n militêre administrasie vir die dorp.

Vroue en kinders word na Van der Merwestasie gestuur
Daar is sedert Junie 1900 voorstelle aan Lord Roberts, gemaak om onderhoud aan vroue en kinders van vegtende burgers te staak en die behoeftiges wat nie vir hulself kan sorg nie, na die kommando’s te stuur. Die doel was om ’n verdere las op die kommando’s te plaas. Roberts het die voorstelle aanvanklik van die hand gewys, maar op 17 Julie 1900 gee hy toestemming dat die vroue en kinders in Pretoria na die Boere Kommando’s gestuur kan word.
Ongeveer 600 vroue en kinders in Pretoria is opdrag gegee om op Donderdag 19 Julie by die stasie aan te meld, om na die ooste afgevoer te word. Op Donderdag 19 Julie 1900 het 412 vroue en kinders op die stasie byeen gekom. Enkeles is huis toe gestuur oor swak gesondheid en swangerskap.

Om 16:30 vertrek die trein met die meer as 400 vroue en kinders op oop trokke na Van der Merwestasie, 32 km buite Pretoria. Van der Merwestasie was ’n klein stasie op die Oosterspoor net na Eerste Fabrieke en voor Rayton. Die stasie is vernoem na DS van der Merwe, ’n sakeman in die Zuid-Afrikaanse Republiek. Dit was die uitvoerpunt vir die bekende Seltzbach mineraal water uit die fontein wat wyd versprei was.

Waar aanvanklik beplan is dat die trein 11:30 op 19 Julie sou vertrek, het dit eers 16:30 vertrek en arriveer in die nag op Van der Merwestasie. Dit was ’n koue winternag op die Hoëveld en dit kan aanvaar word dat dit snerpend koud op die oop goedere trokke was.

Beswaar is onmiddellik deur Generaal Ben Viljoen gemaak oor die afvoer en dat verskeie vroue swanger was. Na die beswaar gee Roberts opdrag aan ’n plaaslike dokter om die klagtes te gaan ondersoek. Dit wil voorkom of die vroue ten minste die volgende oggend verder afgevoer is, want die dokter rapporteer die volgende oggend (20 Julie) dat slegs drie vroue op die stasie was en nie een siek was nie.
Afvoer van vroue en kinders na Middelburg
Generaal Benjamin Johannes (Ben) Viljoen (1869-1917) is getaak deur die ZAR Regering om die vroue en kinders te ontvang en hulle is die nag in waens geakkommodeer (die rekords verwys bloot na waens – dis onwaarskynlik wat voldoende ossewaens so vinnig gemobiliseer kon word, so dit was waarskynlik treinwaens).

Die vroue is die volgende dag verder vervoer na Middelburg, die eerste dorp oos van Pretoria. Daar is nie duidelikheid oor die afvoer na Middelburg nie, maar dit was waarskynlik per trein, aangesien die Oosterspoor vanaf Van der Merwestasie tot in Middelburg nog onder Boere beheer was. Dis ’n afstand van ongeveer 125 km per spoor. Daar word gerapporteer dat op 21 Julie 1900 die vroue en kinders in die dorpsaal in Middelburg geakkommodeer word. (Dit sou nie moontlik gewees het om die afstand per ossewa af te lê in een dag nie.
’n Ossewa beweeg teen gemiddelde spoed van 4-6 km/uur en gemiddelde reikafstand van 25-30 km per dag. Om die vroue dus per ossewa te vervoer na Middelburg sou minstens vyf dae geduur het). Die aanname word dus gemaak dat hulle per trein op Middelburg stasie aangekom het. Die Oosterspoorlyn vanaf Van der Merwestasie was nog onder Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij (NZASM) se beheer en lokomotiewe en waens was nog geredelik beskikbaar.
Waarnemende landdros Jan Coenraad Schutsdal van Woudenberg (1875-1951), was ten tye in beheer van die dorp, so daar kan aangeneem word dat daar met hom geskakel is, en daar is besluit om die vroue en kinders in die nuwe Dorpsaal in die huidige Eksteenstraat te huisves. Daar was wel drie hotelle in Middelburg, die Transvaal Hotel, Middelburg Hotel en die Masonic Hotel, maar dié was relatief klein en sou nie 400 gaste kon akkommodeer nie.
Oor die vervoer van die vroue en kinders vanaf die Middelburg stasie (ten tye 1,5 km buite die dorp) na die saal in die midde-dorp kon geen inligting opgespoor word nie. Verskeie foto’s bestaan egter van perde rytuie, insluitend Wagonette waens, wat by die stasie wag vir passasiers. Daar kan dus die aanname gemaak word dat al hierdie rytuie ingespan was, sowel as privaat rytuie, om die groep na die saal aan te ry en waarskynlik weer na die stasie terug te neem vir hul verdere reis.

Die Dorpsaal van Middelburg is in 1897 opgerig en 1899 voltooi (sien datum op front gewel), deur Johannes Boshof (Jan) de Kock en Marthinus Cornelis Landsberg (Board, 1902). Dit was nie ’n stadsaal nie en het nooit aan die Stadsraad behoort nie. Daar is beplan om die saal aan inwoners te verhuur vir funksies en aktiwiteite. Die saal was geleë op Kerkplein, huidig Eksteenstraat. (Die agterste gedeelte van die gebou bestaan nog as deel van die Astra-gebou in Eksteenstraat).

Die vroue en kinders was in die saal geakkommodeer vir ’n onbekende tyd maar waarskynlik relatief kort periode. Generaal Ben Viljoen het die afvoer na Middelburg beheer en was betrokke by die versorging van die groep. Geen inligting kon egter opgespoor word oor hulp aan die groep deur inwoners nie.
Op 23 Julie 1900 begin Lord Roberts sy opmars na Middelburg. Die vroue en kinders word nou na ’n kamp vir vlugtelinge by Barberton vervoer, waarskynlik ook per spoor. Hierdie kamp was aanvanklik nie ’n Britse konsentrasiekamp nie, maar ’n kamp vir Boere vlugtelinge wat deur die ZAR Regering opgerig is.

Dieselfde lot sou op Saterdag 11 Augustus 1900 vroue en kinders uit Johannesburg tref, toe ongeveer 850 op Wonderfonteinstasie (buite Middelburg) afgelaai is. Dit was teen Augustus die mees oostelike stasie onder Britse beheer. Daar bestaan rekord dat NZASM opdrag gekry het om alle beskikbare treintrokke beskikbaar te maak, maar baie trokke was toe al op die Selati Spoorlyn (in die huidige Kruger Wildtuin) weggesteek en kon nie betyds nader gebring word nie.
Verskeie Middelburgers volg die vroue en kinders na Barberton, mev. JF Vercueil, eggenote van die veldkornet van Middelburg, beskryf hoe sy, na die Britse besetting van Middelburg, opdrag gekry het om met haar ses kinders by die stasie te rapporteer – omrede sy die vrou van ’n offisier was ‘en inligting aan die Boere sou gee”. Sy word na die Boere vlugteling kamp in Barberton gestuur. Sy reis op ’n oop kooltrok eers na Machadodorp en toe na Barberton. Hier woon sy in ’n huis tot die Britte Barberton beset, en die Britse Generaal beslag lê op die huis, omdat hy daar wil slaap. Hy laat gooi al haar besittings uit op straat!

Op 13 September 1900 is Barberton in Britse hande en word ’n konsentrasiekamp gevestig. Die meeste van hierdie vroue en kinders eindig dus wel op in ’n konsentrasiekamp. Hoeveel van die vroue en kinders deel van die 216 sterfgevalle in die Barberton kamp was is onbekend.

Dorpsaal na die Britse Besetting van Middelburg
Na die inname van Middelburg op 27 Julie 1900 is die dorpsaal deur die Britse magte gekommandeer vir gebruik tydens die res van die oorlog en is verskeie krygsgevangenes ook hier aangehou voor vervoer na Krygsgevangekampe. Ds Alewyn Burger, leraar van die Witkerk, beskryf hoe hy en ’n groot deel van die Middelburg-Kommando, in die saal aangehou is na hul gevangeneming by Bothasberg. Hy beskryf hoe hy as krygsgevangene vanuit die saal die Witkerk kon sien en hoor hoe die gemeente sing.
Na die Anglo-Boereoorlog het die eienaars van die dorpsaal ‘n eis ingestel teen die Military Compensation Board vir £40 5/6 (2023 waarde R978,00) vir skade aangerig aan die gebou tydens die oorlog. Die eis is deur die Raad afgewys aangesien die eienaars as “redelik welvarend” beskou is.


Periode 1902 tot 1950’s
Dit wil voorkom of daar nie na die oorlog ’n aktiewe gebruik vir die saal was nie. Die gebou is in ’n winkel omskep wat deur mnre. Vivian en Haigh bedryf is, en later deur Rabie en Duvoison. In 1910 is dit in ’n rolskaatsbaan omskep deur die eienaar van die Imperial Hotel.
Die gebou huisves daarna Standard Bank. Mnr Johnny Crux, ’n bekende motorhandelaar, gebruik daarna die gebou as vertoonlokaal vir motors. Hy open daarna sy bekende motorsaak op die hoek van Cowen Ntuli- en John Magagulastraat. Mnr Crux was na bewering die eerste eienaar van ’n motor in Middelburg.
Periode 1950’s tot 1980’s
In die 1950’s koop mnr. DD de Kock, die seun van die oorspronklike eienaar Jan de Kock, die saal en omskep dit in ’n bioskoopteater. Die voorste fasade van die gebou brand in dié periode af.
Mnr. De Kock bied hierna die saal aan die Nederduits Gereformeerde Kerk (Witkerk) aan as kerksaal, maar omrede die gebou langs die Imperial Hotel was, met ’n bedrywige kroeg op die hoek, het die kerkraad die aanbod “vriendelik van die hand gewys”.
Die treffende fasade van die oorspronklike gebou word nou met die huidige fasade vervang en mnr. Gabby Kalell bedryf ’n bioskoopteater onder die naam die Astra-teater, tot in die 1980’s.
Alhoewel die gebou vele funksies gehad het, het die saalkomponent van die gebou basies onveranderd gebly en was die oorspronklike verhoog van die ou dorpsaal nog agter die bioskoopteater se skerm en het as stoorplek vir voorrade gedien. Die akoestiek van die bioskoopteater met sy galery was swak, en om dit te verbeter is die hele saal met eierhouers uitgeplak. Van die houers teen die dak het losgekom en vir dramatiese gille gesorg wanneer dit op spannende oomblikke tydens ‘n film, skielik afgeval het.

Die Astra-teater, (en die Mascot-teater in Bhimy Damanestraat,) was vir baie jare die twee uithang plekke vir Middelburgers.


Met die koms van televisie en die afname in bioskoopgangers sluit die teater in die 1980’s.
Die gebou huisves daarna verskeie sakeondernemings. Tans huisves dit ’n spreekkamer en ’n kerkgroep.
Die agterste deel van die bestaande gebou is steeds die oorspronklike dorpsaal uit 1899 en die fasade voor die gebou ’n vervanging van die oorspronklike ikoniese toring fasade wat afgebrand het. Middelburg Erfenis het ’n Blou Erfenis Bordjie by die gebou gemonteer.
’n Oorlog-storie van ’n groep Boere vrouens en kinders wat uitgeskop word uit Pretoria, draai deur ’n bioskoopteater in Middelburg. Krygsgevangenes word hier aangehou, motors verkoop, rolskaats gery en Cowboy rolprente vertoon, in ’n interessante gebou.
