Huldeblyke stroom in vir geliefde onderwyser
Daar was maar net een Pikkie Herrmann, of Pikka, soos hy genoem is.

Pikkie Herrmann, of Pikka, soos hy genoem is. was ’n onderwyser in murg in been, entoesiastiese sportafrigter, motiveerder, inspirasie, pa en vriend.
Dit is geen wonder daar was ’n stortvloed huldeblyke nadat hy Saterdag in eMalahleni aan ’n hartaanval oorlede is nie.
“HTS Witbank was nog gister by ons skool vir landloop, ons het nog met hom gepraat en hy het vir almal drukkies gegee en dankie gesê vir die dag. Dis verskriklik, ons is stom,” was een van die vele boodskappe.

Laer- en hoërskole vanoor die provinsie het huldeblyke aan HTS Witbank gestuur, waar hy sedert Julie 2023 skoolgehou het. Dit sluit in Laerskool Panorama, Robert Carruthers, Hoërskool Kriel, HTS Middelburg, Hoërskool Kanonkop en selfs Mpumalanga Landsdiens.

HTS Middelburg, waar hy lank ’n onderwyser was, het geskryf: “Môre julle mooi mense … Hierdie kenmerkende woorde van mnr. Pikkie Herrmann sal altyd in ons harte voortleef. Vandag vier ons ’n lewe wat voluit geleef is, ’n lewe wat diep spore in die harte van baie mense gelaat het.”
Mnr. Herrmann het ook voorheen by Laerskool Duvhapark en Laerskool Middelburg skoolgehou.

HTS Witbank het sy afsterwe aangekondig met ’n boodskap op hulle Facebookblad wat lees: “Dit is met groot hartseer dat ons die heengaan van een van ons geliefde onderwysers, mnr. Pikkie Herrmann, moet deel. Mnr. Herrmann was ’n gewaardeerde deel van ons skoolgemeenskap en het deur die jare ’n besondere indruk op die harte van talle leerders, personeel en ouers gelaat. Ons innige simpatie gaan aan sy familie, geliefdes, kollegas en almal wat deur sy lewe aangeraak is. Mag julle in hierdie moeilike tyd troos vind in die kosbare herinneringe wat hy agterlaat. Ons sal meneer se sêgoed nooit vergeet nie – Hallo, julle mooi mense!”

Janette Poultney Nortjé het geskryf: “Hierdie was een van die beste en liefdevolste mense wat ek geken het. Hy was so lief vir die Here, vir kinders, passievol oor sport, lief vir mense, ’n omgeemens met soveel deernis. Bitter na aan ons harte. Sy afsterwe is werklik ’n massiewe verlies vir die mensdom, vir HTS Witbank en vir seker vir ons.”
Hy laat sy vrou, Ulrike, en hul twee seuns, Heinrich en Theo, agter.
