Dit is maak of breek vir die Curriebeker eerskomende naweek.
Dit is net Griekwas en die Vrystaat Cheetahs wat gerus kan slaap, die res van die spanne gaan ’n senuagtige paar dae hê.
Selfs die Blou Bulle gaan nie lekker slaap nie, want hulle skandes kan verder verdiep, indien hulle teen die Haaie in Durban verloor. Dit sal beteken dat hulle nie een wedstryd gewen het nie.
Yslike vernedering
Verlede jaar was hulle net twee keer aan die wenkant. Vir ’n provinsie met trotse tradisie waar die Curriebeker met Thys Louerns en Buurman van Zyl sinoniem was met Noord-Transvaal rugby, is dit ’n yslike vernedering.
Die Blou Bulle president, Willem Strauss, het verlede week gesê daar kom veranderinge, maar dit is twee jaar te laat.
Witwarm en dan weer yskoud
Jimmy Stonehouse sal veral die week, net soos Rassie Erasmus, met ’n paar nare drome wakker word.
Indien die Bokke Saterdag teen die All Blacks verloor, beteken dit dat hulle die reeks net kan deel.
Indien die Pumas teen die Cheetahs vasval en van die ander spanne behaal bonuspunt seges, is hulle Curriebeker drome daarmee heen.
Wat Stonehouse veral moet bekommer, is dat die span hierdie jaar een naweek witwarm is en die volgende keer, soos teen Griekwas, yskoud.
Met Faf de Klerk wat die kitaar slaan, is die Vrystaters ’n ander span.
Hy keer terug na sy ou jagveld en weet wat om van Stonehouse en kie te verwag.
Die Pumas het Vrydag met 14-38 teen Griekwas verloor, die Bulle het met 26-50 teen die Stormers XXIII vasgeval, die Haaie en Leeus het met 22 elk gelykop gespeel, die Cheetahs was met 33-24 aan die wenkant teen die Boland Kavaliers.
Laaste rondte
Vrydag in die laaste rondte, voor die uitspeelwedstryde, is dit die Leeus om 17:05 teen die Stormers XXIII op Ellispark.
Om 19:15 pak die Hollywoodbets die Bulle in Kings Park.
Saterdag speel die Pumas om 14:00 teen die Cheetahs in die Mbombela Stadion.
Sondag is dit die Boland teen Griekwas om 15:00 in Wellington.
Die Suzuki Griekwas en Cheetahs het tans 26 punte maar die Diamantvelders het ’n beter punteverskil. Die Pumas is op 17, Sanlam Boland Kavaliers 16, DHL Stormers XXIII 16, Fidelity ADT Leeus 15, Hollywoodbets Haaie XV 13, Vodacom Bulle XV 5. Behalwe vir die Bulle kan enigeen van die ander spanne nog deurdring na die uitspeelwedstryde.
Dit is net Griekwas en die Vrystaat wat verseker is van ’n tuishalfeind.
’n Oorwinning is ononderhandelbaar indien die Laevelders hoop het om sy tweede Curriebeker-titel in te palm.
