Hoërskool Middelburg speel nie – hulle is ernstig oor hulle rugby.
Die skool het so pas ’n kontrak met die oud-Springboksenter, Lionel Mapoe, gesluit om hoofafrigter, Christiaan Gouws, by te staan.
Dit is ’n groot vangs vir Middies.
Mapoe het 14 keer vir die Bokke uitgedraf en onder andere die Leeus, Cheetahs, Bulle, Stade Français in Frankryk en Kubota Spears in Japan verteenwoordig.
Tydens sy laaste paar jaar by die Bulle het hy van sy beste rugby gespeel.

Die gewilde agterspeler sal ook onthou word vir die horing wat hy op sy kop gewys het nadat hy ’n drie gedruk het.
Gouws het gesê om mededingend te wees in die strawwe bekerafdeling, het hulle afrigters van Mapoe se gehalte nodig.
Om ’n afrigter soos Mapoe te betrek, verhoog ook die profiel van Middies-rugby, want watter seun sal nie graag deur so ‘n legende afgerig wil word nie?
“Ons is baie opgewonde oor die toekoms en ons kan hierdie jaar ook ’n goeie voorseisoen met die spanne hê,” het Gouws gesê.
Hoërskool Middelburg en Nelspruit speel albei volgende jaar in die strawwe bekerafdeling met HTS Middelburg wat in die plaafdeling meeding.
