Pumas sê lees verbreed kinders se kennis
Rugbyunie gee sy ondersteuning vir koerant se toneelstuk.
Dit is Saterdagmiddag maak of breek vir Jimmy Stonehouse en sy Pumaspan wanneer hulle teen die Vrystaat Cheetahs op die Mbombela-stadion speel. Tog het hy tyd gemaak om ’n ander Puma sterkte toe te wens.
Daardie Puma is die stoutseun wat Saterdagoggend om 10:30 by Pienaardam optree as deel van die Middelburg Observer se leesprojek.
Die projek word al die afgelope 21 jaar by skole aangebied.
Die Mpumalanga-rugbyunie het ook sy ondersteuning gegee vir die leesprojek.
Hulle skryf:
“Die Airlink Pumas en die Mpumalanga-rugbyunie is trots om die Middelburg Observer Puma-leesprojek te ondersteun en saam te help om ’n liefde vir lees by kinders te kweek. Ons glo dat lees ’n belangrike bousteen in ’n kind se ontwikkeling is – dit verbreed hul kennis, stimuleer hul verbeelding en gee hulle die vaardighede en selfvertroue om hul drome na te jaag. Almal is welkom om Puma Saterdag om 10:30 by die Laerskool Staatspresident CR Swart se Veldfees by Pienaardam te kom ontmoet! Kom kuier saam en ondersteun die projek.”