Crime

VIDEO: Deur rowers geteister

Nuwe intrekkers op die dorp weier om 'n aand verder in hulle huurhuis in Pongolastraat te slaap nadat hulle Dinsdag kort na 18:00 deur vyf gewapende mans oorval en beroof is.

Johan Brits, sy vrou Carina, hul dogtertjie (8) en seuntjies (5) en (3), was Woensdag nog erg geskok oor die leë huis wat hulle die afgelope drie weke, splinternuut oor gemeubileer het.

Mnr. Brits het onder ‘n waas van medikasie in sy skoonpa se klere vertel hoe hy Dinsdag sy laaste aankope – ‘n yskas, vrieskas, reuse plasma TV en vermaaksentrum – by sy oprit in Pongolastraat ingery het.

Hy het die plastiek en kartonomhulsels van die produkte buite afgehaal en dit motorhuis toe geskuif vir later se regpak.

“Ek het die motorhuis toegemaak en is kamer toe, waar ek wou gaan uittrek en tot ruste kom, toe gil my vrou,” sê hy.

Buite sy kamer is hy deur’n gewapende rower gekonfronteer terwyl ‘n ander vir me. Brits in die sitkamer vasgepen het.

Die rower het die sneller verskeie kere onsuksesvol getrek, maar eindelaaste die wapen na mnr. Brits gegooi en sy aandag afgetrek.

Hy is vasgepen en sitkamer toe gesleep, waar sy voete en hande vasgebind is, die rower het toe sy voete en hande ook aan mekaar vasgebind, sodat hy glad nie kon beweeg nie.

Me. Brits is volgende vasgebind en drie ander rowers het by hul makkers in die huis aangesluit.

Vier van die vyf het handwapens gehad en die vyfde ‘n halwe baksteen waarmee mnr. Brits oor die kop geslaan is.

Hy is elke keer as hy “ons het niks” op die rowers se vrae vir wapens en geld geantwoord het, teen die kop geskop.

Mnr. Brits het erge harsingskudding opgedoen en het ook kneusplekke aan sy rug waar hy aanhoudend geskop is.

Sien VIDEO hier:

Die kinders was rustig in die bed maar is wakkergeruk en na hulle ouers in die sitkamer gebring en beveel om op die bank te sit.

Hul seuntjie van vyf kon die emosies nie inhou nie en ‘n rower het hardhandig sy mond toegedruk en gedreig om hom te skiet.

Die rowers het mnr. Brits toe die huis ingesleep en sy dogtertjie saam laat loop.

Die trane loop soos me. Brits die gedagtes, van wat op dié stadium deur haar adrenalien oorspoelde brein gemaal het, te onderdruk.

‘n Rower het haar na haar dogter toe gedwing, maar die seuns het onbedaarlik begin huil, waarna die hele gesin in een van die kinders se kamers toegesluit is.

Die rowers het vir twee ure lank feitlik alles van waarde uit die huis gedra; al hul klere, al hul kos, al hul nuwe meubels en selfs die kinders se skoolklere, saam met mnr. Brits se gereedskap, wat hy sê die swaarste slag is omdat hy sy brood en botter as motorwerktuigkundige met die gereedskap verdien.

Die baksteen-rower het toe hy me. Brits se ringe, horlosie en nekketting verwyder, vir hulle gesê “eks jammer maar ek het ook drie kinders en het die geld nodig”.

“Ek sal hulle gesigte nooit vergeet nie.”

Hulle is vort met mnr. Brits se splinternuwe werksbakkie wat omstreeks 01:00 in ‘n veld naby Ermelo gevind is.

Die bakkie se kajuit is deur die boosdoeners verwoes.

Hy vermoed dat twee rowers by die motorhuis ingesluip en weggekruip het voordat die deur toegemaak is.

Die ander moes buite met ekstra voertuie wag want al wat oor is in die huis is hul beddens en ‘n sitkamerstel.

Selfs die laaikassies langs hul bed is gesteel.

Die gesin sal nou by familie oornag, tot hulle blyplek in ‘n veiligheidskompleks gekry het.

• Inwoners wat die gesin van noodsaaklikhede soos kos en klere kan voorsien kan mnr. Brits se ma, Susan Coetzee, bel by 079 354 0946, want die paartjie se selfone is ook gesteel.

•Die gesin is so vreesbevange dat hulle gevra het dat die koerant nie hulle foto’s publiseer nie.

gerhard@mobserver.co.za

.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button