Studente aangehou
'n Oud-leerling van Hoërskool Middelburg en tans 'n student by die Pukke is saam met 'n mede-student in Potchefstroom deur rowers vasgebind en met 'n pistool en skroewedraaier aangehou.
Crystal Erichsen (21), dogter van die bekende mnr. en me. Niels en Kathy Erichsen, is só getraumatiseer deur die gebeure, dat hulle uitstel moes vra vir ‘n vak wat sy Woensdag moes skryf. Sy is tans ‘n derdejaarstudent in Aptekerswese. “Sy teken net sirkels op die papier as sy probeer leer. Sy kan glad nie konsentreer nie.”
Die Erichsen-egpaar het kort nadat hulle van die gebeure gehoor het, vanaf Middelburg na Potchefstroom gejaag, om hul dogter te gaan bystaan.
“Dankie Here my kind is gespaar! Dit is verskriklik erg, maar ek weet ons kind sal genees. Sy sal hierdeur kom. Die Here sal ons hierdeur dra,” het me. Erichsen Maandagoggend emosioneel gesê. Sy het aangedui dat hulle oppad is na ‘n berader by die Pukke om Crystal by te staan.
Me. Erichsen het vertel van die gebeure, soos Crystal en Wian Lubbe (‘n vriend van Crystal) dit aan haar vertel het.
Crystal het Saterdagaand by Wian gaan kuier by die Waterberry Estate, waar hy in ‘n duet bly. Hulle het DVD’s gekyk en omstreeks 22:30 besluit om pizza te gaan koop.
Kort na hul terugkeer, het hulle die skuifdeur oopgemaak sodat die hondjie kan uitgaan. Hulle het weer die skuifdeurgordyn toegetrek, maar nie die skuifdeur gesluit nie.
Hulle was nog besig om te eet, toe Wian opkyk en vaskyk in ‘n wapen. Crystal het gesien Wian se oë rek en het self ook in die rowers vasgekyk. Die rowers se eerste woorde was: “Shh! Keep quiet or we will kill you!”
Die rowers het Crystal se hande voor haar vasgemaak en haar teen Wian vasgedruk, waar hulle altwee die jongmense met skoenveters aan mekaar vasgebind het.
Een van die booswigte het die hele tyd ‘n pistool teen hul koppe gehou en ‘n skroewedraaier teen Wian se nek, terwyl sy twee makkers huisware en die twee jongmense se selfone en Crystal se ringe gebuit het.
Die rowers was nog besig om alles na buite te dra, toe die ander inwoner van die duet langs Wian huiswaarts keer. Hul deel dieselfde parkering, maar die rowers het klaarblyklik gedink dit is mense wat by Wian aankom.
Die boosdoeners het na buite gestorm en die donker in verdwyn.
Die twee studente het nog ‘n rukkie so bly lê en daarna opgestaan, aangesien hul voete nie baie styf vasgemaak is nie. So aanmekaar vasgemaak het hulle oor die straat gehardloop en hulp gaan soek by ander studente.
Die ander studente het aanvanlik gedink hulle bak ‘n poets vir hulle en het begin lag. Eers toe Crystal begin huil, het hulle besef hulle is ernstig en het saam met Wian teruggekeer na sy blyplek.
Hulle het die Potchefstroom Polisie laat weet en Mooirivier Beskermingsdienste (‘n sekuriteitsmaatskappy) het saam met die polisie na die drie verdagtes begin soek. Crystal se foon was af, maar Wian se selfoon was nog aan en die polisie kon die selfoonsein volg.
In Hoffmanstraat is die drie opgemerk en het mnr. Johan Jacobs (reaksieoffisier van Mooirivier Beskermingsdienste) hulle van voor af afgeblok. Sy kollegas het ook kort daarna by hom aangesluit en twee van die drie verdagtes is met die hulp van die polisie gearresteer. Die derde verdagte het in ‘n stormwaterpyp verdwyn.
Crystal het ná die rooftog die volgende op Facebook geplaas: “When I’m afraid, I put my trust in You. In God, whose word I praise, In who I trust, I shall not be afraid. What can man do to me?” Ps 55:3-4.
