Crime

Mens los nie hond so nie

"Mens los nie eens 'n hond dat hy op die grond lê nie." Vriende en familie van die ontslape polisiespeurder, Jaco Tromp (Trompie), is ontsteld oor gebeure kort voor sy dood verlede week, by sy werkplek.

“Het jy gehoor wat hulle met Trompie gedoen het? Julle moet iets hieraan doen. Ons polisiemanne word soos s****t hanteer” het ‘n anonieme oproep, een aand gesmeek.

Sy vriendin, Wilma van der Walt, sê dat Trompie, soos wat hy alom bekend was, vir haar voor die speurtak se deur gewag het.

“Dit was ons ding. Ek het net om die hoek gewerk. Hulle tjaila mos vier uur, dan het hy daar voor die deur vir my gewag.”

Me. Van der Walt sê dat sy amper by hom was toe twee mans na haar toe gestap en gesê het “Trompie fell,” voordat hulle aan geloop het. Sy het na hul ontmoetingsplek gehardloop en hom op die grond aangetref.

“Hy het vir my gesê ‘Liefie ek voel nie lekker nie.’ Sy gesig het skeef getrek. Ek het dadelik geweet hier is groot fout.”

Sy het hom probeer ondersteun tot by sy motor. Oppad soontoe het ‘n polisieman kom sê: “Trompie, the brigadier is calling you.” Me. Van der Walt sê dat hulle oor die pad gestap het, na waar ‘n groep polisiemanne gestaan het.

Een van die mans het gesê dat hy die brigadier van Middelburg is en dat hy nie gaan toelaat dat ‘n polisieman in so ‘n toestand werk nie.

Middelburg stasiebevelvoerder is brigadier Jansen Ngoveni.
Middelburg stasiebevelvoerder is brigadier Jansen Ngoveni.

“Hy het hom verneder voor ander polisiemanne, wat gestaan en kyk het. Hy het gedink hy is dronk. Hy het gesê ‘Kom Trompie, gee daai “gun”. I am taking your gun.’ Toe vat hy sy wapen en kry ‘n patroon in die loop en sê vir my ‘Kyk hier mevrou, kyk wat doen hy. Take him home.’ Ek het my mal vererg en gedink ‘Whatever ou, jy sal nog jou dag kry’ maar ek het niks gesê nie. Trompie kon nie eers meer op daardie stadium praat nie.”

Trompie het nadat hy en me. Van der Walt by die huis gekom het, weer inmekaar gesak. Hy is kort daarna hospitaal toe gehaas, waar hy die volgende dag, Woensdag, oorlede is.

“Die ergste vir my is om te dink dat sy laaste ervaring met die polisie was, om verneder te word. Hulle het gedink Jaco was dronk, maar sy lewerfunksie is in die hospitaal getoets en hy was nie dronk nie. Hy het vir die laaste twee weke nie ‘n druppel gedrink nie. Ek weet, want ek het hom soos die palm van my hand geken.”

“Mens moet darem eers bietjie agter die kap van die byl kom, voordat jy sulke goed doen.

“Jaco se naam moet skoon kom, dit is die laaste herinnering van hom by die Polisiediens.”

‘n Familielid van adjt. Tromp het gesê dat hy van die gebeure gehoor het en dat dit hom vreeslik ontstel het. Hy het die brigadier op die begrafnis gesien.

“Ek wou na hom toe stap en sê: ‘You are a disgusting human being, who does not deserve to wear that uniform.’ Maar ek het dit nie gedoen nie, want ek het net tweedehandse inligting, ek het dit nie self sien gebeur nie.”

“Wat ookal gebeur het, om nou daaroor te tob gaan hom nie terugbring nie. Ek hou net aan dink, mens los nie eers ‘n hond op die grond nie.”

• Daar is later vasgestel dat adjt. Tromp ‘n beroerte gehad het.

• Brigadier Selvy Mohlala sê dat daar geen klagte by die polisie se bestuur ingehandig is nie.

“Ons volg prosedures en ons kan nie iets opvolg wat nie aangemeld is nie. Volgens ons het die voorval nie gebeur nie.”

Hy het me. Van der Walt aangeraai om ‘n klag by die polisie te lê, sodat ‘n interne ondersoek geloods kan word.

As gevolg van die bogenoemde siening, kon hy nie kommentaar lewer op vrae oor of brig. Jansen Ngoveni, Middelburg se bevelvoerder, en adjt. Jaco Tromp oppad huistoe op die Dinsdag kontak gehad het nie, asook of brig. Ngoveni sy vuurwapen op daardie dag afgevat het nie.

• Die plaaslike kommunikasie kantoor het in ‘n kort verklaring gesê “die feite is nie waar nie”.

• Lewer kommentaar. Stuur ‘n SMS na 37940 met die kodewoord Tromp gevolg deur jou boodskap. (Sms kos R1.50)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button