Crime

Vrou takel buurvrou met pepersproei

Daar is nie ’n “A” in oorlog nie, maar as jy in nommer 1 Eugene Marais bly, soek skuiling, want daar is die loopgrawe al lankal gelê oor die eerste lettertjie van die alfabet.

Die oorlog oor die “A” in die adres van die onderverdeelde erf, het daartoe gelei dat me. Suzette Dibden (53), die week twee nagte agter tralies moes deurbring, nadat sy haar buurvrou verlede Donderdag, met pepersproei getakel het.

Die klaer, me. Louise Spies, het na die voorval Donderdagmiddag, ’n saak van aanranding namens haar dogter, Johanne, by die polisie aanhangig gemaak, omdat sy in die Life Midmed Hospitaal opgeneem is met asemhalingsprobleme na die katgeveg op die sypaadjie.

Kort nadat sy op borg van R500 vrygelaat is Woensdag, het me. Dibden gebieg dat haar daad effens on-Christelik was, maar beweer dat die mes in Johanne se hand, haar ontsenu het, veral in die lig daarvan dat sy glo kort voor die onderonsie geskakel en gedreig is met die woorde “ek sny jou f***** hande af”.

Die dreigement is na bewering gemaak omdat me. Dibden vir die hoeveelste keer Donderdag, ’n “A” met Tipex by me. Spies se adresnommer gaan teken het.

“Ek gebruik al 13-jaar Eugene Marais 1 vir my munisipale rekeninge en pos,” kla me. Dibden, wat bylas dat die ingang na haar huis, egter by Cowen Ntuli 13 is, na die onderverdeling van die erf.

“Ek het die erf onderverdeel en daar is twee eenhede op die reserwe gebou, wat verkoop is, en ek dus nie meer die eienaar is nie,” verduidelik me. Dibden die deurmekaarspul.

Donderdag, voor die geveg, was sy by die munisipaliteit om die stadsbeplanners te vra om die voortslepende geskil te besleg, sonder sukses.

Sy het tuis haar Tipex pen gegryp en wéér die “A” by die adresnommer van die eenhede gaan inskryf, waarna sy Mall toe is.

Daar het sy na bewering twee oproepe ontvang waarin sy gedreig is “ek sny jou f***** hande af,” waarna sy dadelik huistoe gejaag het.

Me. Dibden sê toe sy voor die eenhede stop, was daar ’n meisie met ’n mes in die hand, besig om die “A” af te krap.

Dis toe dat die skelwoorde begin vlieg.

Me. Dibden sê dat ondermeer gedreig is dat sy met een oog oop moet slaap, omdat “ons mense ken wat jou sal kom uithaal”.

“Sy het die mes die heeltyd rondgeswaai, en ek het haar drie maal gewaarsku, dat ek die pepersproei in my hand sou gebruik, sou sy aanhou om my te skel en intimideer, toe sy weer die mes swaai, toe spuit ek!”

Nadat sy Johanne gepepersproei het, is sy direk polisie toe, waar ’n senior offisier haar aangeraai het om nie ’n klag van intimidasie teen die slagoffer te maak nie, en dat hy sou toesien dat die partye om ’n tafel gebring word, vir mediasie.

Vrydag is sy egter speurtak toe ontbied, waar sy na bewering gedwing is om ’n waarskuwingsverklaring te teken, sonder om ’n verklaring af te lê.

Vandaar is me. Dibden hof toe om ’n beskermingsbevel teen die bewoners van die eenhede, en Louise en Johan Spies,die slagoffer se ouers, te kry.

Die papierwerk is gedoen, maar die voorlopige bevel is nie deur ’n landdros bekragtig nie.

Maandag is sy terug speurtak toe, waar sy op die plek gearresteer, en selle toe geneem is, waar sy die volgende twee aande deurgebring het, voor haar borgaansoek Woensdag.

Borg van R500 is toegestaan, op voorwaarde dat sy nie haar voete by haar huis sit, tot haar volgende hofverskyning op 9 Januarie nie. Sy bevind haar tans in Morgenzon by familie.

• Me. Louise Spies was aanvanklik vuur en vlam om die storie met die Observer te deel, maar het sedertdien van opinie verander en bloot gesê dat die reg nou sy gang moet gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button