Rower byt vinger af
Die gemeenskap is vasgevang in 'n greep van vrees, met misdaad wat hoogty vier, terwyl die Polisie steeds ontken dat dit buite beheer is.
Desember, wat veronderstel is om ‘n tyd van rus en vrede te wees, het in ‘n monster van geweld ontaard.
‘n Vlaag geweldsmisdade hou inwoners gyselaar. Daar was oor die naweek ‘n poging tot kaping in Proteastraat, nog ‘n man is op die hoek van Cowen Ntuli- en Meyerstraat gekaap. Daar was ook ‘n gewapende roof by die Kranspoort dorp.
‘n Inwoner van Hendrina is Donderdagoggend wreed in haar huis aangeval. Rika de Lange (67) is vasgebind, verskeie kere met ‘n hamer oor die kop geslaan en gebyt. Noodhulpwerkers en ‘n dokter moes probeer om mev. De Lange se bloeding te stop, terwyl een van haar vingerpunte nog op die grond langs haar lê.
Volgens mnr. Corrie Wolmarans, wat mediese hulp op die toneel verleen het, het mev. De Lange vroegoggend opgestaan om te begin bak. Sy bly alleen en het die agterdeur oopgesluit sodat haar honde kan uitgaan. Kort daarna het sy gaan ondersoek instel.
Haar aanvaller het vermoedelik toe die huis binnegeglip en haar in haar slaapkamer met ‘n hamer in die hand ingewag.
Die man het haar met skoenveters vasgebind en gemartel. Mev. De Lange het ‘n diep sny agter haar regteroor, asook een bo-op haar kop. Dit wil voorkom asof haar aanvaller haar met beide die stomp en skerp kant van die hamer geslaan het.
Tydens die marteling het mev. De Lange se vingers in haar aanvaller se mond beland. Hy het haar middelste vinger aan haar regter hand morsaf gebyt, bokant die eerste lid. Haar wysvinger is ook raak gebyt.
Mev. De Lange het ook ernstige beserings aan haar kakebeen opgedoen.
Sy het aan omstanders gesê dat die man haar verskeie kere probeer verwurg het. Sy het by hom gepleit: “Jy moenie my dood maak nie!” Die man het vlot Afrikaans gepraat, was lig van gelaat, lank en atleties gebou.
Haar aanvaller is fort met R5 000 wat sy in ‘n blikkie gebêre het. Mev. De Lange kon haarself loswikkel en na buite strompel, waar haar buurman, dr. Mias Pretorius, besig was om na sy duiwe om te sien.
Hy het Vossie Sekuriteit ontbied, wat weer mediese bystand ingeroep het.
Dr. Hannes Schutte, Corrie en Marlie Wolmarans, het hul na die toneel gehaas om mediese bystand te verleen. Lede van die radio forum was ook teenwoordig.
Mev. De Lange is per ambulans na die hospitaal gehaas.
Sy was teen die tyd wat die berig geskryf is in die Hydromed in Trichardt behandel.
• Die man was verskeie kere by mev. De Lange se huis in die laaste twee weke. Hy het glo eers vir kos en later vir werk gevra. Mev. De Lange het hom ‘n paar dae gelede gebukkend in die hoek van haar buur erf aangetref. Hy het vir haar gesê dat hy gehuur is om bossies uit te trek.
• Stirie Sckeurkogel (97) is in Julie in sy huis in Hendrina oorval. Hy is met ‘n skuifmoersleutel in die gesig geslaan en met verbande vasgebind en verwurg. Bure het vermoedelik rowers skrik op die lyf gejaag. ‘n Strykyster wat reeds in die muur ingeprop en aangeskakel is, het aangedui dat hulle mnr. Skeurkogel nog wou martel. Hy bly tans by sy dogter in Krugersdorp. Sy aanvallers is steeds op vrye voet.
• Nog ‘n bejaarde vrou is vroeër die week in haar huis in Hendrina aangeval. Sy is na die Midmed Hospitaal gebring vir behandeling. Verdere inligting bestaan nie en daar is nie ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak nie.
•In die Groblersdal en Marble Hall omgewing was daar ook die week verskeie aanvalle.
