Net hy en pakkie ys verdwyn
'n Man het onder raaiselagtige omstandighede verdwyn, nadat hy gery het om ys en sigarette te gaan koop - sy liggaam is die volgende dag in 'n lykshuis gekry, nadat hy in 'n ongeluk op die Bethalpad was.
Familie en vriende van mnr. Hennie Britz (31) glo hy is na alle waarskynlikheid gekaap, want hy het ná middernag sy vriendin, Lettie Mulder, gebel en gesê “ek weet nie waar ek is nie.
Hier is ‘n bordjie wat sê Leeupan en dis 60km van Middelburg af. Die kar is leeg, maar ek sal ‘n plan maak.”
Me. Juanitta Annandale het Maandagoggend vertel van die vreemde gebeure en die uiteindelike vind van mnr. Britz se oorskot.
Sy het vertel dat mnr. Britz en sy vriendin, Lettie, by hulle ‘n woonstel huur en Saterdagaand saam met hulle gekuier het.
“Iets baie vreemds het hier gebeur,” sê sy.
Omstreeks 20:00 het hy vanaf hul huis in Vaalstraat (naby Cafe 101) gery om gou sigarette en ys te gaan koop by die Engen Motorhawe by die Midwater Sentrum. Hy het nooit weer teruggekom nie en hulle het later die aand na hom begin soek.
Videomateriaal by die Engen Motorhawe het gewys dat hy oppad uit die geriefswinkel met ‘n vrou in ‘n Blou Bul trui en ‘n man met ‘n denim en ‘n baard gestaan en gesels het.
Wat daarna gebeur het, slaan hulle dronk. In plaas daarvan dat hy teruggery het in John Magagulastraat, het hy afgedraai in Oranjestraat in die rigting van Samora Machelstraat. Die man en vrou het gevolg in ‘n wit Honda Getz.
Omstreeks middernag het mnr. Britz sy vriendin gebel, maar daarna kon sy hom nie weer in die hande kry nie.
Rasend van bekommernis het me. Annandale se man, Ruan, en hul buurman, Boeta Esterhuizen, Sondag uitgery op die Bethalpad om te kyk of hulle nie sy voertuig langs die pad kry nie.
Naby Komatie Kragsentrale het hulle ‘n trok in die pad gevind en by die ongelukstoneel gestop. Hulle het stukke van voertuie op die toneel gesien en dadelik navraag gedoen.
Vandaar is hulle na die Middelburg Polisie, wat hulle weer verwys het na die Blinkpan polisie. Dié het hulle in kennis gestel dat die pasiënt wat ER24 afgevoer het na die Witbank Hospitaal, dood is kort na sy aankoms en dat hy in die staatslykshuis lê.
Mnr. Britz se werkgewer, mnr. Johan Joubert (van T&T Exhaust) het hom omstreeks 14:30 in die lykshuis gaan uitken.
Beide mnr. Joubert en mnr. Britz se familie is stomgeslaan oor die gebeure. Allerlei riemtelegramme is versprei dat daar moontlik iemand saam met hom in die voertuig was tydens die ongeluk.
Mnr. David Ross (van MP Insleepdienste) sê hy was Saterdagnag op die ongelukstoneel.
Volgens hom het die trokbestuurder op die toneel gesê dat hy uitgeswaai het vir mnr. Britz se Chevrolet Aveo, wat in die aankomende verkeer aangery gekom het.
Die trok het uit die pad probeer swenk, maar omgeslaan, waarop mnr. Britz se voertuig een van die trokwiele getref het.
‘n Bakkie het sekondes later vanaf Middelburg se rigting die trok aan die ander kant getref.
“Die kant waar mnr. Britz gesit het, was geweldig beskadig en hy het op die toneel nog met ons gepraat. Hy het gesê: ‘Help my, my been!’ Hy het erge been-, kop- en borsbeserings opgedoen en ek het nog gehelp om hom in die ambulans te laai. Stories wat versprei word dat daar drank en ‘n ander persoon in sy voertuig was, is onwaar. Dit was net hy en ‘n pakkie ys in die kar!”
Mnr. Joubert het gesê dat mnr. Britz vir drie jaar as passer en draaier by hom gewerk het.
Me. Mulder het dié boodskap Maandagoggend gestuur: “Hennie, liefie, jou plekkie is leeg, daar is geen troos. Skielik is jy van ons weggeneem. Ons sal vir ewig jou mooi herinneringe koester, jy was die
wonderlikste pa en man. Ek kon nie vra vir beter nie! Jou glimlag sal vir altyd in my hart bly! Baie liefde. Lettie.”
Mnr. Britz word oorleef deur sy vriendin, Lettie, hul jaaroue seuntjie, Handré, ouers Dirkie en Louis, broer Lourens en suster Heila.
• Teen druktyd was daar nog geen begrafnisreëlings getref nie.
• Me. Annandale het gevra dat die mense wat met mnr. Britz gepraat het, asook enige persoon wat meer inligting het oor waar hy Saterdagaand kon gewees het, om haar dringend te bel by 082 719 9197.
• Mnr. Sabelo Shange was die bestuurder van die Opel Corsa bakkie wat die trok aan die ander kant getref het. Na wat verneem word, word hy steeds in die hospitaal behandel.



