Crime

Plat gestoei en toe geboei!

Mnr. Neels de Vaal, 'n oudlid van die Middelburg Stoeiklub, het Woensdagoggend in Pretoria 'n vermeende dief aangekeer.

“Neels het reg verby ons gehardloop, die dief ingehaal en platgetrek!”, het een van mnr. De Vaal se vriende gesê. “Hy was soos een van daai Olimpiese atlete!”.

Mnr. De Vaal het vir twee van sy vriende, mnr. Micheal Mulder en sy broer, Ronald, by hul werkswinkel, by die Total vulstasie in Silverton, gekuier toe een van die Mulder broers se selfone lui. ‘n Booswig het sopas by een van hul vriende, mnr. Wouter Human, se huis ingebreek.

Dié inbreker het daarin geslaag om met ‘n boks vol koperdrade, staalpype en krane wat hy uit die huis se muur gepluk het, te vlug.

Aangesien mnr. Human se huis slegs ongeveer 500 meter vanaf die werkswinkel geleë is, het die Mulder broers saam met mnr. De Vaal besluit om reg in eie hande te neem en self na die dief gaan soek.

Onderweg na die huis, het motorwagte hulle in kennis gestel dat die dief, met die boks vol gesteelde goedere in die hand, in die rigting van Hatfield gevlug het.

Tydens die soektog het die Mulder broers die dief gewaar en hom te voet agterna gesit… maar mnr. De Vaal het reg verby hulle gehardloop en die dief self platgetrek.

‘n Verbygaande motoris, het gesien wat aan die gebeur is, stilgehou en die dief se hande en voete met kabelbinders, wat in sy voertuig was, vasgemaak.

Die polisie is ontbied, wat hom op die toneel in hegtenis geneem het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button