Crime

Polisie skiet op slagoffer – skokfeite oor motorfietssindikaat

Letterlik honderde boodskappe kom daagliks op ’n privaat WhatsApp groep deur van motorfietse wat gesteel word en opeindig in Mosambiek.

Bykans daagliks word honde vergiftig en motorfietse in ons dorp gesteel.

Rehana Pilodia, voorsitter Middelburg Gemeenskapspolisiëringsforum het twee weke gelede op die WhatsApp groep, “Operation Poisoning” gemeld dat daar gedurende Augustusmaand net in Kanonkop en Dennesig alleen 17 honde vergiftig en sewe motorfietse gesteel is.

Dit is egter nie net ’n krisis in Middelburg nie. Regdeur die land verdwyn motorfietse wat op strepe in Mosambiek en deesdae ook in Angola beland.

Skokfeite oor motorfietssindikaat

• Verlede week moes ’n privaatspeurder, wat in Mosambiek was om kliënte se motorfietse te probeer opspoor, vir sy lewe vlug, nadat die sindikaat hom geïdentifiseer en hy gedreig is.

Hy het aan www.mobserver.co.za gesê dat die sindikaat buiten in Mpumalanga, ook die hele Gauteng vol opereer. Volgens hom wyk hulle nou uit na die Vrystaat en slaan toe veral in Welkom, waar daar baie motorfietse is.

• Via betroubare inligting wat deur informante verskaf is, is gesê dat die sindikaat ’n “secret muti” gebruik wat huismense en honde laat slaap.

In die meeste gevalle gee hulle egter sommer vir die honde gif om hulle uit die pad te kry.

’n Motorfiets wat onlangs in Matola (Maputo) opgespoor is Die motorfiets is in Boksburg Noord in Mei 2016 gesteel.

• ’n Informant wat besig was met ’n ondersoek in Zimbabwe, omdat die Mosambiekse sindikaat wat motorfietse in Suid-Afrika steel nou uitwyk na Angola, is sowat drie weke gelede dood in ’n motorongeluk terwyl hy besig was om te bepaal watter roetes die sindikaat na Angola gebruik.

• ’n Lid op ’n privaat WhatsApp groep (wat anoniem wil bly) het hierdie week gesê dat mense nie die omvang van hierdie probleem besef nie.

Hy het gemeld dat daar drie motorfietse by hom in Gauteng gesteel is, waarop hy besluit het om self sy motorfietse te probeer opspoor.

Die man sê dit het hom vier weke geneem om een van sy motorfietse op te spoor in Mosambiek.

Hy het in kort verduidelik dat sy papierwerk in orde was, maar dat die Mosambiekse polisie selfs op hom geskiet het.

“Die polisie is aan hulle kant, want dit is hulle land. Ek besluit om my bike skelm terug te bring, maar ek is op die grens deur die polisie gearresteer en daar is vir my gesê dat ek in besit is van ’n gesteelde voertuig. Ek het al die dokumente gehad, maar hulle sou die motorfiets terugstuur Mosambiek toe!”

Hy het op die groep gemeld dat mense geduldig moet wees as privaatspeurders byvoorbeeld probeer om die motorfietse te gaan terugkry op ’n wetlike manier.

“As julle al dié bogenoemde wat my oorgekom het, beter kan hanteer, gaan haal jul eie bikes terug! Andersins, laat iemand wat weet wat hy doen, dit gaan doen.”

Mnr. Jakes Joubert (van Middelburg) se motorfiets is in stukke in ’n bos op ’n plaas gevind. Die sindikaat haal dit blitsig uitmekaar, waarna die parte op sleepwaens tussen ander ware soos aartappels en ander gekoopte artikels versteek word. Dit is te veel werk vir die Mosambiekse polisie om die sleepwaens af te laai. Hierdie parte word binne minute aanmekaar gesit in Mosambiek.

• Daar is gister (Woensdag) op die privaat WhatsApp groep gesê dat daar pas beslag gelê is op twee motorfietse in Maputo en dat twee al terug is in Suid-Afrika.

• Verlede Donderdag is twee Mosambiekers met ’n gesteelde motorfiets in Brits gearresteer.

• Einde Augustus is ’n Quantum bussie naby eMalahleni afgetrek nadat die polisie inligting ontvang het dat die bussie op pad is na Mosambiek met gesteelde motorfietse.

Hordes motorfietsparte is in die bussie en op die sleepwa gekry. Nadat dit aanmekaar gesit is, was dit nege volledige motorfiese!

• Kort daarna is daar in die Vaal twee kwads in ’n taxi gekry en ’n kwad en ’n Jetski naby Barage in ’n taxi gekry.

• Net etlike weke voor die Quantum bussie in eMalahleni vasgetrek is, is ’n soortgelyke Quantum bussie in Middelburg opgemerk. Die voertuig se sitplekke is uitgehaal. Die voertuig is opgemerk nadat motorfietse gesteel is. Dit het egter weggejaag voordat die polisie die verdagtes kon vastrek.

• In Augustusmaand is mnr. Sam Weller se twee gesteelde motorfietse binne etlike ure opgespoor op ’n plaas langs Hoërskool Middelburg se plaas.

Daar is aan www.mobserver.co.za gesê dat spore aandui dat die diewe in ’n kort tydjie al 14 motorfietse daar versteek het. Elke keer as hulle daar gekom het, was die motorfietse deur die diewe verwyder.

• In dieselfde omgewing is ’n motorfiets ’n paar maande gelede gevind waar dit heeltemal uitmekaar gehaal is.

Die twee motorfietse wat in Renosterstraat, Kanonkop, gesteel is.

Daar is betroubaar aan www.mobserver.co.za gesê dat motorfietse uitmekaar gehaal word en dan word die parte versteek op sleepwaens en in bussies (wat se stoele uitgehaal word) tussen komberse, matrasse, klere en aartappels. As hulle by die grenspos kom, is dit te veel werk vir die polisie om alles af te laai.

’n Ooggetuie het al gesien hoe die sindikaat ’n kwad wat in stukke in Mosambiek aangekom het, binne 12 minute aanmekaar sit en daarmee wegry.

• Van die misdadigers wat al vasgetrek is, is in besit van twee tipes dagga gevind. Daar word gesê dat dit hulle op ’n “high” sit om vinnig in te breek en die motorfietse te steel en selfs oor mure te tel.

Die pers tipe dagga word op die swartmark “Purple Haze” genoem. Daar is ook ’n oranje tipe wat hulle klaarblyklik vir pyn gebruik.

• Daar is gemeld dat hierdie mense so gewoond is om hierdie motorfietse te steel, dat daar al op sekuriteitskameras gesien is hoe twee mans ’n gesteelde BMW GS oor ’n ses voet muur tel.

www.mobserver.co.za het verneem dat ’n plaaslike slagoffer van ’n motorfietsdiefstal ’n paar maande gelede op ’n Mosambiekse advertensieblad, soortgelyk aan OLX, sy motorfiets gesien het waar dit slegs ’n dag nadat die motorfiets gesteel is, geadverteer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button