Crime

Ma en rower ontmoet in speelkamer

“Die Here se tyd is perfek.” 'n Dennesig ma van twee het Dinsdagoggend in 'n rower, wat besig was om deur haar huis se venster te klim, vasgeloop.

“Ek kry nou nog hoendervleis as ek daaraan dink,” vertel die ma, wat versoek het om anoniem te bly om haar kinders, wat van niks weet nie, van trauma te beskerm. Die gesin bly in Amajubastraat in Dennesig.

Sy vertel dat haar twee seuns, ses en vier jaar oud, siekerig was. Sy moes kort-kort deur die nag opstaan om vir hulle te sorg.

Sy het teen 04:12 opgestaan om reg te maak vir werk en haar gesin se kos voor te berei.

Terwyl sy nog in haar slaapkamer was, het sy ’n harde slag gehoor. Die res van die huismense het nie wakker geword nie.

Haar honde het nie geblaf nie, maar die bure se hond het wel. Die vrou sê dat hulle hul honde snags agter in die erf toemaak omdat hulle bang is hulle word vergiftig.

Toe sy ’n tweede harde slag hoor, het sy haar man wakker gemaak en gesê dat sy die alarm gaan afsit en gaan kyk wat sy gehoor het.

“Mens sê altyd hoe jy in jou kamer moet bly en nie uitgelok word nie. Maar vir een of ander rede het dit nie by my geregistreer nie.”

Die vrou het besluit om nie ligte aan te sit nie. Sy het in die donker niks verdags in die kombuis of eetkamer gesien nie. Oppad na die televisiekamer het sy ’n derde harde slag en daarna mansstemme gehoor.

By die speelkamer, wat aan die straatkant van die huis is, het sy vas gesteek. ‘n Man was al kop en skouers deur die venster, besig om in die huis in te klim.

“Ons het vir ‘n oomblik vir mekaar gekyk. Dit voel of dit alles so stadig gebeur het. Ek was dood kalm, ek het nie geskree nie, net met my hand hard teen ‘n kasdeur geklap.”

Dit het die rowers laat vlug. Haar man het uit die bed opgevlieg en was binne oomblikke by haar. Hy het deur die eetkamervenster twee figure in die straat sien afhardloop.

Deur die speelkamer se venster het die vrou ‘n derde rower oor hul palisade heining sien spring en weghardloop.

Die drie harde slagte wat sy gehoor het, was toe rowers die venster oopgebreek en diefwering afgeknip en weggebuig het.

Die skade is klaar herstel en die gesin het dit nie by die polisie aangemeld nie omdat daar niks gesteel is nie. Die vrou het besluit om met www.mobserver.co.za te praat om ander inwoners in Dennesig te waarsku.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button