Crime

Wonderwerke tydens kapingsdrama

Midde in ’n kapingsdrama Vrydagaand op die N12 tussen Ogies en eMalahleni, het ’n man wonderwerke sien gebeur terwyl hy gebid het.

Mnre. Jurie Badenhorst en Kobus Janse van Rensburg glo “dat ’n Hoër Hand” ingegryp het op die toneel waar twee kapers hulle oorval het.

Die aanval op die N12 het net ’n dag na moorde in Ogies gebeur en die polisie het vir die mans gesê dat hulle gelukkig is om te leef.

Die moorde in Ogies

Die aand tevore het vier mans omstreeks 19:00 by ’n informele nedersetting naby Ogies opgedaag. Hulle het ’n wit Toyota Quantum minibus gery.

Die mans wou weet wie hul familielid vermoor het. Toe inwoners van die Steyn informele nedersetting gesê het dat hulle nie kennis dra wie dit gedoen het nie, is daar op hulle geskiet.

Vier mense is op die toneel dood en nog twee later in die hospitaal.

Mnre. Badenhorst en Janse van Rensburg se ervaring

Mnr. Badenhorst vertel dat hy en sy swaer Gauteng toe is om parte te koop vir ’n tweedehandse Nissan Navara bakkie wat hy onlangs gekoop het.

Dit was al donker toe hulle die terugtog Middelburg toe op die N12 aangepak het.

Kyk: Video – Kettingbotsing in digte mis

Tussen Ogies en eMalahleni het hulle opgemerk die toue op die sleepwa is los en het gestop om dit vas te maak.

‘Ons sal dalk moet veg vir ons lewens’

’n Silwer VW Polo met vyf mans in het by hulle gestop en gevra wat fout is. Hulle het verduidelik alles is reg en die groep het gery.

Mnr. Badenhorst het kort vantevore ook sy vrou, Cornea, laat weet dat hulle oppad huistoe was.

Hulle was nog besig om van die wa af te klim, toe twee mans skielik uit die donker na hulle aangestap kom.

Mnr. Van Rensburg het aan sy swaer opgemerk dat hulle dalk sal moet veg vir hulle lewe.

Die volgende oomblik het een ’n 9 mm op hulle gerig.

Lees: Dorp gons oor kaping

Die rowers het hulle deursoek en hul beursies gevat. Die mans is met die wapen op hulle gerig, gedwing om hul bank pinnommers te gee.

Die een het gedreig dat sy makker by hulle sal bly terwyl hy gaan geld trek. Hulle het egter nooit daarby uitgekom nie.

Die booswigte het R5 000 kontant gevat maar was nie tevrede nie.

Hulle is ingeboender in hul voertuig en aangesê om heel agter te gaan sit met hul koppe tussen hul bene.

Mnr. Van Rensburg het deurentyd saggies gebid.

‘Liewe Jesus, bewaar ons’

“Ek het gehoor hoe hy sê: ‘Liewe Jesus bewaar ons asseblief. Ek wil asseblief vanaand my vrou en kinders weer sien.”

Die boewe het voor ingeklim, om met hul voertuig te ry, maar dit wou nie aanskakel nie.

In hierdie tyd het mnr. Badenhorst se vrou bekommerd begin raak omdat sy nog nie weer van hulle gehoor het nie.

Read: Flying Squad members shot, suspects sought

Na die soveelste onbeantwoorde oproep, het me. Badenhorst vir haar pa, mnr. Kobus Janse van Rensburg snr, gesê sy dink daar is fout. Hy het besluit hulle moet na mnre. Badenhorst en Janse van Rensburg jnr gaan soek.

Op pad uit by die hek, het iets vir me. Badenhorst gesê om terug te hardloop en hul handwapen te gaan haal.

Die boewe het intussen alles wat hulle kon dra bymekaar gemaak, teen die voertuig geslaan en weg geloop.

Mans kruip in die donker weg vir rowers

Mnr. Badenhorst sê hulle was bang die booswigte kom terug om hulle dood te skiet. Omdat die voertuig nie wou aanskakel nie, het hulle besluit om in die donker weg te kruip.

Me. Badenhorst het intussen aangehou bel. Een van die rowers haar het haar man se foon geantwoord. Hy het vir haar vertel hy wag in die voertuig vir haar man met sy selfoon, want haar man het diesel gaan haal.

Read: Flying Squad member shot on N4

Hulle het kort daarna die twee swaers langs die pad gekry.

Op pad terug het hulle ’n blitspatrollie voertuig in die teenoorgestelde rigting sien ry. Hulle het die voertuig afgetrek en vertel wat gebeur het.

Nie die eerste slagoffers nie

Die blitspatrollielede het gesê dat hulle kort vantevore mense wat iets soortgelyks op die N12 oorgekom het, gehelp het.

Die polisiemanne is saam met hulle na die voertuig, waar die polisielede wag gehou het, sodat die mans dit weer aan die gang kon kry.

Die rowers is steeds op vrye voet.

Mnr. Badenhorst sê hy weet ook nie wie die ander mense is wat op die N12 oorval is nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button