Mlotshwa ‘Ek het herstel en is ‘n sterk mens’
Victor Mlotshwa vertel van sy lewe na die doodskisvoorval.
Victor Mlotshwa het aan adv. Wayne Gibbs erken dat hy aan die proefbeampte gesê het dat hy ten volle herstel het en ‘n sterk persoon is.
Hy het gesê dat hy dit gesê het omdat sy hom nie uitgevra het oor sy nagmerries nie.
Adv. Org Basson het aan Mlotshwa gesê dat hy ‘n internet sensasie geword het. Mlotswha het ontken dat hy enige onderhoude op die internet of YouTube toegestaan het.
‘YouTube?’ het Mlotswha met ‘n verbaasde uitdrukking gevra.
“Daar is ‘n video waarin jy mense bedank vir hulle ondersteuning.”
Adv. Basson het daarna vir Mlotshwa ‘n selfoon met ‘n skermgreep van die video gewys. Hy het gesê dat hy nie die hofverrigtinge gaan vertraag deur die video vir hom te wys nie.
Hy het hom gevra wie sy berader was en hoeveel keer hy by haar was. Mlotshwa het gesê dat hy sowat 16 keer by haar was maar nie haar naam of die adres waar hy haar gesien het, kan onthou nie.
“Jy probeer die golf ry, net soos toe jy nie jou beserings aan die hof wou wys nie,” het adv. Basson gesê.
Mlotshwa het gesê dat die ANC vir sy berading betaal het.
“Dieselfde ANC wat my buite die hof geintimideer het,” het adv. Basson gesê.
Mlotshwa werk nie op die oomblik nie. Hy het getuig dat ‘n organisasie in die ANC op die oomblik vir hom sorg.
Basson het dit aan Mlotswha gestel dat hy nooit ‘n berader gesien het.
“Jy praat nie die waarheid nie, soos wat jy ook nie die waarheid oor die vreeslike skade aan jou rug wat met ‘n knopkierrie gedoen is, gepraat het nie.”
Adv. Basson het Mlotswha ook uitgevra oor die siviele aksie teen die beskuldigdes. Mlotshwa het gesê hy dagvaar hulle vir R400 000 maar gaan sy regsverteenwoordiger vra om die bedrag te vermeerder.
“Ek hoop jy gaan jou rug vir die siviele hof wys. Daar gaan dit nie so maklik soos hier wees nie,” sê adv. Basson.
Hy het Mlotshwa verder daarvan beskuldig dat hy ‘n “charade” opsit om te poog om ‘n saak vir sy siviele aangeleentheid op te bou.
“Jy sê dat jy bang is om in die publiek uit te gaan, maar ek stel dit aan jou dat jy hou van al die aandag.”
Adv. Basson het verder gesê dat hy glad nie swaar gekry het nie en oneerlik is daaroor.
“Ek kry nogsteeds swaar,” het Mlotshwa geantwoord voordat hy die getuiebank verlaat het.
