Daar was gistermiddag groot drama by die inweeg vir vanaand se bokstoernooi by Event City. Bonginkosi Nhlapo, wat sy WBF ligswaargewigtitel op die spel sou plaas teen Nyanda Mthembu, het nie die gewigsgrens gemaak nie en dit sal nou ’n nie-titelgeveg in ’n tussengewigafdeling wees. Die geveg is steeds oor 10 rondtes.
Nhlapo het van Donderdag af probeer om die ekstra gewig uit te sweet, maar dit was tevergeefs.
Daar was verdere drama toe Steven Pieterse, wat die inweeg hanteer het, sy hande vol gehad het met Pieter de Klerk en Khayalethu Gabuza wat sommer gister al met die boks wou begin.
Die twee het mekaar rondgestamp en daar moes net gekeer word dat die gestampery nie verder hande uitruk nie.
Hulle boks oor ses rondtes in ’n super middelgewig geveg.
Die toernooi staan bekend as die “Bokke en Boks” met die toets teen die All Blacks wat vanaf 17:00 op ’n grootskerm gewys word.
Daarna begin die aksie met DA burgemeesterskandidaat Bosman Grobler en groot Leon Bosch wat oor drie twee minuut rondtes in ’n vertoongeveg gaan sake uitspook.
Grobler het gesê hy gaan maar die bul by die horings pak . “Ek is baie beter as wat ek drie weke gelede was,” het hy gesê.
Phaphama Rhonorhono gaan sy Suid-Afrikaanse weltergwewig titel teen Jabulani Makhense verdedig in die hoofvoorgeveg.

Nyiko Nkuna pak Peto Kapeto van die Demokratiese Republiek van die Kongo oor vier rondtes in ’n swaargewig geveg.
In ’n kruisergewig afdeling veg Suid-Afrika se Jonathan Sam teen Danny Ngokwey ook van die DRK.
Pritchard Dube en Zwelakhe Nhlapo boks in ’n ligswaargewig geveg oor ses rondtes.
’n Geveg wat groot belangstelling gaande maak is tussen Donjuan van Heerden en Alex Kabangu in die ligswaargewig afdeling oor ses rondtes.
*Daar gaan fasiliteite wees waar kos en drinkgoed verkoop word.
