Die kwagga het uitgesterf, nee, die kwagga is springlewendig!
Nie eers Covid kon sy einde beteken nie.
En dit alles te danke aan ’n Van der Merwe!
Op 12 Augustus 1883 is die laaste kwagga in die dieretuin Natura Artis Magistra in Amsterdam dood. Met haar dood het ’n dier wat eens in groot getalle oor die Karoo en die Suid-Vrystaat voorgekom het, uitgesterf. Die Covidinperking het so byna gesorg dat Middelburg se Kwaggas net ’n droom bly.
Jakes van der Merwe se visie om ’n junior rugbyklub op die dorp te begin is deur Covid in sy spore gestuit.
Toe die kinders in die straat begin speel, was dit nie lank nie of die polisie daag op. (Hoe vinnig het ons dit net nie vergeet nie?). Toe die inperking opgehef word, kon die kinders weer skool toe gaan, maar rugby oefen is nie toegelaat nie.

Met die Covidspook wat oor Middelburg gehang het, het die Van der Merwe-droom voortgeleef.
Ondanks al die uitdagings reël hy ’n oefening, waar 15 seuntjies opdaag. Sy vrou, Suria, sê “niemand kon daardie dag weet dat hierdie klein begin die geboorte van die Middelburg Junior Rugbyklub, die Kwaggas, sou wees nie.”
Wat met 15 seuntjies begin het, het gegroei tot meer as 400 kinders, van o.7 tot o.13.
“Jakes het nie net die eerste oefening begin nie, hy het die fondasie gelê, vir iets wat soveel groter geword het, ’n Kwagga- familie.” Sy seun Nicus was deel van die gestreepte familie. Hy het verlede week sy laaste wedstryd in die swart trui gespeel. “Dit was nie net nog ’n wedstryd nie. Dit was die einde van ’n era.”
Suria sê: “Van ’n inperking-plan tot ’n klub, ’n familie en soveel kosbare herinneringe. Dankbaar vir Jakes wat daardie eerste tree gegee het. Wat ’n reis. Wat ’n voorreg. Kwagga mamma signing out.” En om die man ager die Kwagga te vereer, is ’n spesiale trofee, wat in Knysna gemaak is, aan Jakes oorhandig – ’n Kwagga!Die kwagga het uitgesterf, lank lewe die Kwagga.