Geen vinnige kuur vir kliniek wat geen diens lewer
Die provinsiale gesondheidsdepartement het reeds aan die begin van die jaar belowe om Eastdene kliniek met telefone en rekenaars te voorsien, maar die drie susters daar moet steeds uit hul eie sakke die kliniek aan die gang hou.
Daar is geen skoonmakers nie en gesondheidswerkers moet self inspring om die besige kliniek netjies te hou.
Naas dit is chroniese medikasie ook nie geredelik beskikbaar nie en die provinsiale DA kantore sê navorsing wat deur die party ingevorder is, toon dat medisyne eers twee dae nadat dit deur die depot na die kliniek versend is, by die kliniek afgelewer word.
Me. Alice Newman het maande terug reeds gekla dat sy nou in toue moet gaan sit vir haar kroniese medisyne, of dit nou daar is of nie.
“Voor die oorname van die kliniek deur die provinsie, kon ek die foon optel en hoor of my medikasie gekom het,” sê ‘n ontevrede me. Newman.
Die ANC meerderheid in die wetgewer het op 29 Julie ‘n mosie sonder kennisgewing van die DA se Jane Sithole, wat vra vir onmiddellike departementele intrede, afgelag.
“Dit wys net weereens die ANC se onwilligheid om pasiënte se basiese regte tot kwaliteit gesondheidsorg te verseker,” was die DA leier, Anthony Benadie, se siening oor die ANC taktiek om die opposisie se mond te snoer.
Onder munisipale bestuur, het die kliniek geblom, maar sedert oorname van klinieke deur die departement sedert middel verlede jaar, gaan dinge daagliks agteruit.
“Waarom die regering besluit het om munisipale klinieke onder die bestuur van ‘n platsak departement onder kuratorskap te sit, sal net die ANC kan verduidelik,” sê Benadie.
“Ons kommunikeer die probleme deur na die provinsie omdat die munisipaliteit die belange van inwoners op die hart dra,” sê die waarnemende munisipale bestuurder, me. Thobela Mekuto, wat bylas dat “ons hande afgekap is vandat die klinieke van ons weggeneem is”.
Sy sê die feit dat die departement onder kuratorskap geplaas is, bemoeilik ook sake omdat die departement van alle finansiële magte gestroop is.
