Dorpe in chaos gedompel
Totale chaos heers op Belfast in die Emakhazeni Munisipale area en DA voorsitter op Belfast, Ernst van den Berg, is oortuig dat hierdie staking die finale spyker in die dorp se doodskis gaan wees.
“Toe die munisipaliteit ná die staking in Augustus ooreengekom het om die stakers te betaal, al het hulle nie gewerk nie, het hulle net daar ’n presedent geskep! Daar is tog wetgewing dat stakers nie betaal word nie!”
Tydens dié staking het munisipale werkers gekla dat hulle nie beskermde drag het nie. Na talle onderhandelings het die premier toegegee dat die werkers ’n punt beet het en is hulle wel betaal, al was hulle nie by die werk nie.
Toe daar dus wéér gestaak is vroeg in Desember en hulle aan die einde van Desember nie betaal is nie, het alle hel op die dorp losgebars.
Hierdie staking het gevolg nadat die bestuurder van Tegniese Dienste, mnr. Lukas Sindane, drie mense na ’n dissiplinêre verhoor wou afbetaal.
Die driestuks het hulle gewend tot die munisipale bestuurder, rdl. Thandi Shoba, en haar daarop gewys dat hulle ses maande voor hul dissiplinêre verhoor al ’n grief teen mnr. Sindane ingesit het, wat nie aandag geniet het nie.
Toe daar geen gehoor gegee word aan hul griewe nie, het almal gestaak en alle hel het losgebars. Die munisipale werkers het geëis dat die burgemeester, rdl. Hamzer Ngewnya, die munisipale bestuurder, me. Shoba en mnr. Sindane afbetaal word.
Dit het daartoe gelei dat die munisipale kantore die afgelope maand gesluit is en geen dienste betaal kan word nie. “Mense kan nie eers lisensies vir hul kinders wat universiteite toe gaan, uitneem nie!” sê mnr. Van der Berg.
Woede het aan die einde van Desember weer vlamgevat toe hulle boonop nie betaal is gedurende die tyd wat hulle gestaak het nie.
“Die ergste is, stakers mag nie inmeng met dienste nie, maar hulle het wel sover gegaan om waterpype en ander dienste te saboteur. Belfast se inwoners het nie water gehad op Kersdag nie. Jy kon wel gaan eet by Wimpy, maar jy mag nie hul toilette gebruik het nie!”
Mnr. Van der Berg meld dat die plaaslike polisie nie opgetree het nie en dat die burgemeester aangeklop het by die provinsiale kommissaris van polisie vir hulp. Polisielede van ander dorpe is intussen na Belfast gestuur om veiligheid van die inwoners te probeer verseker.
Mnr. Van der Berg is uiters bekommerd oor die toedrag van sake op die dorp. “Van die kleiner besighede kan nie verder oorleef nie en moes hul deure toemaak. Ons by die DA sê altyd kom ons vat ’n dorp en hef hom op, maar ek kan nie sien dat ons Belfast ooit weer gekickstart gaan kry nie!”
• Mnr. Van der Berg het verder sy kommer uitgespreek oor die veiligheid by die begraafplaas. “Dit is in die bosse téén die asgate en een van die toegangsroetes na die Siyathuthuka woongebied waar honderde mense daagliks loop. Dit is net te onveilig om soontoe te gaan. As jy nie afgestorwe familielede kan veras nie, sal ek aanraai dat jy hulle op ’n ander dorp gaan begrawe.”
• Mnr. Van der Berg sê hy kan ook nie sien dat die beplande sportsentrum vir oefensessies vir internasionale atlete (wat al lankal deur die Mpumalanga Departement van Sport en Rekreasie goedgekeur is) kan realiseer nie. “Dit is bykans teenaan Siyathuthuka en atlete se veiligheid sal nie verseker kan word nie.”
• Die Observer het verneem dat daar ’n man aangerand is wat foto’s geneem het van die stakers. Dit is egter onbekend wie die man is.
• ’n Werknemer van Emakhazeni se huis is in Dullstroom omsingel en die stakers het gedreig om sy huis af te brand. Daar was nie ’n polisievoertuig op Dullstroom beskikbaar nie en moes die lede wat in Belfast ontplooi is, gaan hulp verleen.
Lees meer en sien Video hier: Middelburg, Mhluzi inwoners het die strate in gevaar 14 Januarie.
• Inwoners van RDP-huise op Roossenekal het vanaf Woensdagaand alle in- en uitgange van Roossenekal geblok in opstand daarteen dat hulle al voor nuwejaar betaal het vir krag wat nie opgelaai is nie. Die groep het Vrydag al die munisipale kantore op dié dorp met slotte toegesluit en eis dat die dienste, waarvoor hulle betaal het, aangesit word.
Ander inwoners van Roossenekal het Donderdagoggend laat weet dat van hul kragmeters deur die stakers uitgeruk is deur die nag.
